Biltongmuffins

Kies jy sout bo soet? Dan is hierdie die ideale happie vir jou. Dis vinnig en maklik om te maak. Soos met enige ander muffin, roer jy net die bestanddele deurmekaar, skep in pannetjies en bak tjoef-tjaf.

Die enigste probleem met hierdie resep is dat jy sal moet sorg dat jy altyd ‘n voorraad fyn biltong in die huis het – jou mense gaan om jou ore neul vir nog ‘n baksel van hierdie soutige lekkerte.

As jy regtig wil bederf, kan jy dit opdien met roomkaas met soetrissiesous gegeur. Maar net so, met regte botter, is dit net so lekker.
Dis ‘n heerlike piekniekhappie en ook kolskoot vir die kosblik of die kosmandjie vir die langpad.

Die resep lewer 12 muffins

Jy het nodig

1 koppie koekmeelblom
1 koppie volkoringmeel
1 koppie fyn biltong
1 teelepel sout
1 teelepel mosterdpoeier
4 teelepels bakpoeier
½ koppie gerasperde cheddarkaas
200 ml karringmelk
3 eiers
100 ml sonneblom- of canola-olie

So maak mens

Meng al die droë bestanddele saam in ’n groterige mengbak. Klits die karringmelk, eiers en olie saam en voeg by die droë bestanddele. Roer tot net-net gemeng. Plaas papierhouertjies in die bakkies van ’n gesmeerde 12-gat-muffinpannetjie en skep die deeg daarin.

Bak vir 15 – 20 minute in ’n voorverhitte oond van 200˚C. Laat dit ’n paar minute in die pannetjie afkoel voordat jy dit op ’n draadrak uithaal om heeltemal af te koel.