Dankie, Bella, vir gemmerkoekie-oomblikke

Kook en bak is harde werk. Dis vroeg opstaan, ure lank op jou voete en winter en somer tussen twee warm oonde vasgevang. Baiekeer, wanneer ek saans doodmoeg neerval, wonder ek of dit regtig die moeite werd is.

Dan is dit daardie gemmerkoekie-oomblikke wat my tevrede laat sug en in ‘n diepe slaap sink . . .

‘n Gemmerkoekie-oomblik is daardie vlietende paar sekodes wanneer iemand in een van my gemmerkoekies byt en so ‘n veraf uitdrukking kry. Dan word ek meegevoer na ‘n kombuis van lank gelede, of ‘n teetafel met fyn porselein saam met ‘n ouma of ‘n ma, ‘n gunsteling-tante wat nog na ‘n vergete botteltjie 4711 ruik.

Dis daardie onbewuste deel in ‘n stukkie onthou van elkeen wat Saterdae voor my marktafel kom staan. Dis die kosbaarste geskenk wat iemand my kon gee . . .

 

Toe Isabella Niehaus my vyf jaar gelede gevra het om deel te word van haar mark, het ek nie ‘n oomblik gehuiwer nie. “Jy is tog in elk geval elke mark hier,” het sy laggend gesê. En dis waar – ek was al by baie markte, maar daar is iets betowerends omtrent die mark daar by The Palms.

Ja, dis die berg wat deur die dakvenster loer. Ja, dis die passie en liefde waarmee elke handelaar sy ware daar uitstal, die waardering en lojaliteit van elkeen van die mense wat daar kom koop. Maar dis baie meer as dit – dis Bella se warm hart wat daar in die mark pols.

Sy laat die mark nou in ander hande en ek twyfel nie dat daar groter dinge op haar wag nie. Maar die ou klompie wat agterbly sal nog baiekeer terugdink aan Bella-met-die-swart-rokkie wat so lekker skrefies-oë kan lag.

En ek sal dankbaar onthou dis hierdie vrou wat my uit my kombuis kom haal en my lewe met soveel gemmerkoekie-oomblikke verryk het.

Dankie, Bella!

 

 

Gemmerkoekies

Lewer ongeveer 36 koekies (afhangende van die grootte)

3⅓ koppie koekmeelblom
1⅓ koppie suiker
2 eetlepels fyn gemmer
½ teelepel sout
250 g sagte botter
½ koppie warm water
2 teelepels koeksoda
4 eetlepels gouestroop

Sif die koekmeelblom, suiker, gemmer en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in die meelmengsel in totdat die mengsel soos growwe mieliemeel lyk.  Los die koeksoda in die warm water op en voeg dit saam met die gouestroop by die meelmengsel. Meng goed tot ‘n sagte deeg. Bedek die bak en laat staan vir minstens ‘n uur. (Jy kry die beste resultate as jy dit oornag laat staan.) Rol die deeg in balletjies tussen die handpalms en plaas ‘n entjie uit mekaar op bakplate wat met bakpapier gevoer is. (Ek gebruik ‘n klein roomysskepper om die perfekte, ewegroot deegballetjies te vorm.) Bak in ‘n voorverhitte oond van 180ºC vir 12 – 15 minute tot mooi bruin. Laat die koekies effens op die bakplate afkoel voordat jy hulle op ‘n draadrak pak om heeltemal af te koel.

WENK: Dis baie moeilik om ‘n baktyd vir kleinkoekies aan te gee – elkeen se oond bak anders en het sy nukke en grille. Toets maar en kyk hoe lank jou oond neem om die koekie lekker bruin en bros te bak. ‘n Goeie wenk is om die plaat om te draai na die helfte van die baktyd.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+