Die knusse koestering van rooi

Die sneeu lê wit bo-op Tafelberg en die wind sny snerpend hier om my huisie wat onder teen die hange hurk. Dis dan wanneer ek die warmte van rooi soek – die helder uitdagende rooi van die halfmas-handskoene wat die vrou met die sagte, warm hart vir my gebrei het.

Of die baksteenrige rooi van gerookte paprika wat sag op die maag en warm onder die hart kom lê.

Hierdie sop is nie een wat ‘n lang kook soek nie. Jy maak dit maklik binne ‘n halfuur. Maar die geure en die knusse omhelsing sal jou nog lank bybly.

Rokerige blomkool-en-patatsop

Genoeg vir 4 – 6

3 eetlepels olie
6 repies swoerdlosie strepiespek, in stukkies gensy
3 groterige uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 x 1 cm knoets vars gemmer
1 rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in stukkies gesny
1 groot of 2 kleiner patats, geskil en in blokkies gesny
1 kleinerige blomkool, in blommetjies gebreek en die harde stronk gedeeltes in blokkies gesny
1 eetlepel gerookte paprika
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
6 – 8 koppies hoenderaftreksel (afhangende van hoe dik jy die sop wil hê)

Verhit die olie en braai die spek daarin totdat dit alkant verkleur het. Voeg die uie by en braai tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, brandrissie en gemmer by en braai vir nog ‘n minuut of twee voordat jy die soetrissie, patat en blomkool byroer.  Voeg die paprika by en geur met sout en peper. Laat die groente vir ongeveer 10 minute smoor. Voeg solank ‘n klein bietjie aftreksel by indien jy bang is vir aanbrand. Voeg die res van die die aftreksel by en laat vir 10 – 15 minute prut of totdat die groente heeltemal sag en gaar is. Gebruik ‘n handmenger of voedselverwerker om die sop te verpulp. Maak deurwarm en bedien.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+