Die lewe is wreed

Die wêreld daar buite is baie hard en wreed.

Ek doen my bes om die geweld en seer met die lieflike geure en smake uit my Toorkombuis te besweer. Ek kook en bak my pad deur hartseer en verlies. Ek het ‘n eie klein sprokieswêreld geskep met laggende heksies, kekkelende speelhoendertjies, feëtjies en engeltjies. Vir my het my Toorkombuis en my sprokieshuis genesing gebring en ek doen my bes om die mense na aan my ook in daardie vrede en betowering te laat deel.

Maar dit werk nie altyd so nie .. .  En toe ek gister na ‘n gehawende en voetseer Maswazi luister, het my hart in duisend stukkies gebreek. Die aanvanklike skok het plek gemaak vir ‘n oorweldigende gevoel van magteloosheid. Nie ek of die betowering van my huis kan hierdie jong man teen die lewe beskerm nie.

Maswasi word hierdie jaar dertig, maar hy is baie jonger as sy jare. Hy het 300 km duskant Alice in die Oos-Kaap grootgeword en ek verstom my elke dag aan die onskuld en naïewiteit van hierdie byna plaaskind. Hy is ‘n sagte teiken vir al die shebien kwiens en skelms en val telkens. Hy noem my die sangoma – elke keer wanneer ek hom waarsku teen iemand, gebeur dit nes ek voorspel het. Maar ek kan hom nie toevou in ‘n toorkombers en die lewe buite hou nie.

Hy werk hard. Soggens help hy my bak en twaalfuur val hy by Jason se restaurant daar onder in Roodebloem in. Hy het eers as skottelgoedwasser gewerk, maar iemand anders doen nou die skoonmaakwerk en Maswazi is die kok se regterhand. Met ‘n palet soos syne en ‘n natuurlike talent kan dit ook nie anders nie. Na die middageteskof kom hy huis toe vir sy aftydjie – om te kom eet en ‘n bietjie te rus voordat hy weer vir die aandskof inval.

Maar nou weet ek ook ‘n jong man van sy jare is soms so onvoorspelbaar soos n hormoonbedingesde tiener en toe hy Woensdag hier by my en by die restaurant wegraak, het ek gedink hy en die meisie het vir hulleself die langnaweek toegeëien. Ek het hom nog die oggend laas in die kombuis gesien waar hy vir hom en sy meisie iets te ete gemaak het. Toe raak hy net weg. Natuurlik was ek vies en bekommerd en ek het lang preke in my kop uitgewerk.

Niks kon my voorberei op Maswazi se hartseerverhaal nie.

Hy vertel hy het gou saam met sy meisie Soutrvierstasie toe geloop om haar af te sien voordat hy by die restaurant aanmeld. Op pad terug stop ‘n wit Corolla langs hom en die manne in die kar vra hom of hy hulle kan beduie om by die naaste KFC uit te kom. Maswazi sê toe van die een op die hoek van Roodebloem, net onderkant die restaurant waar hy werk. Hulle bied hom toe ‘n geleentheid aan en vra hy moet hulle gaan wys.

Die oomblik toe hy in die motor klim, oorrompel hulle hom en “they spray me with something”. Toe hy hom kom kry, het hulle hom iewers langs die pad in Vishoek afgelaai, sonder sy bankkaart en selfoon. Hulle het hom boonop gedwing om sy pinnommer vir hulle te gee. Toe ek vra of hy dit vir hulle gegee het, sê hy net: “Karen, I didn’t have another plan.” En in my geestesoog sien ek die suiwer paniek en vrees van daardie oomblik.

Daar sit hy toe. Sonder geld. Sonder foon. En met my telefoonnommer saam met die selfoon weg. Daar tel die Vishoekpolisie hom toe op. Maar hulle help hom nie – stop hom in ‘n sel as ‘n “suspicious-looking person”. Toe hulle hom eindelik laat gaan (hy ken darem sy ID-nommer uit sy kop), moes hy te voet loop van Vishoek tot hier. Moeg en gehawend. Sy nuwe skoene, wat hy met sy swaarverdiende geld gekoop het, aan flarde geloop.

Ek huil en slaan met my vuiste teen hierdie onsigbare muur van magteloosheid. Ek probeer heelmaak waar ek kan en laat hom nou elke dag my selfoonnommer soos ‘n gebed opsê. En ek vertel vir hom hoe wonderlik dit is dat hy nie seergekry het of dat hulle hom nie dood langs die pad agtergelaat het nie. Vandag gaan ons vir hom ‘n selfoon kry (dis belangrik vir sy werk) en môre gaan ons bank toe om te kyk wat die skade is.

Maar ek kan nie n towerstaffie swaai om die verskrikking van die afgelope paar dae vir hom uit te wis nie

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+