Dis die wind wat waai

Die wind waai woes hier in Woodstock. Die Suidooster is deel van die Kaap, ja, maar hier by ons, voel ons sy woede soveel erger. Dis asof Tafelberg van die lastige keffertjie wat hier aan sy regter-skeen hap, wil ontslae raak en met bolwange blaas om hom die see in te jaag. Na drie dae en drie bangmaak-nagte lyk dit darem asof hy nou tot bedaring gekom het.

‘n Mens raak die wind op ‘n manier gewoond. Hierdie tyd van die jaar weet jy om nie mense oor te nooi vir ‘n braai nie – tensy jy minstens ‘n bomskuiling vir ‘n braaiplek het om die wind af te keer. Ons moes al ‘n paar keer teen die suidooster baklei om ‘n braaifotosessie vir die tydskrif te doen, want ‘n spertyd wag nie dat die wind eers gaan lê nie.

Dis ook dan wanneer ek diep in my binneste lekkerkry en ‘n bietjie wraak neem vir die kere wat ek voor die warm stoof moes swoeg en die fotograaf en stillis op die rusbank voor die waaier oor die hitte sit en kla het. Wanneer die wind die kole aanblaas en die vuurtjie verwoed laat rook, stuur ek hulle buitentoe om die braaiwerk te doen terwyl ek lekker beskut in die kombuis die kos vir die vuur regkry.

Maar hierdie afgelope drie dae was die suidooster nog humeuriger. Ek het grootoog sit en luister hoe hy die paar los dakplate lig en met geweld weer laat terugval. En saans, wanneer ek rustig op die rusbank tot bedaring kom na die dag se gewoel, slaat die suidoos my sitkamerlig af. Dan staan ek maar ewe gedwee op om die lig weer by die skakelaar aan te sit. Net om vyf minute later weer op te spring om lig te maak.  Kwaad word help nie – hoe baklei ‘n mens nou teen die wind?

Sagrysie was die eerste dag van die tierende suidoos dikbek en bitterlik vies vir my. Dit was alles my skuld. Vir die reën sien hierdie kattekind nog kans, maar die wind . . . Die tweede dag het hy darem begin besef hy kan dit nie teen my hou nie. Maar hy het my gedwing om alles te los om met hom te speel omdat sy maats ook teen die wind geskuil het en ek nou die enigste speelmaat was.

Dis wanneer die wind die humeure so aanblaas  dat ‘n mens die troos van hierdie goue kerrieblomkoolsop soek. Die kleur van gloeiende goud lig die gemoed so ‘n bietjie, maar dis wanneer die warmte van gemmer en kerrie met die sagte streling van klappermelk by jou keel afgly, dat die woeste suidoos ‘n wiegelied word wat jou tot rus sus.

Kerrieblomkoolsop

Genoeg vir 4

1 eetlepel olie
2 eetlepels botter
3 middelslag uie, fyngekap
1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 groen brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, fyngekap of gerasper
1 stukkie vars borrie, geskil en in stukkies gekap (of ½ teelepel borriepoeier)
1 eetlepel matige kerriepoeier
1 groterige blomkool, in blommetjies gebreek en dikker stingels in stukkies gekap
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
4 – 6 koppies groente- of hoenderaftreksel
1 blikkie klappermelk
‘n handvol vars gekapte koljanderblare

Verhit die botter en olie in ‘n swaarboompot en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, rissie, gemmer, borrie en kerriepoeier by en braai vir ‘n minuut saam. Voeg die blomkool by en roer tot alles goed gemeng is. Geur met sout en peper en voeg die aftreksel by. Verlaag die hitte en laat prut vir 20 minute. Gebruik ‘n handmenger of voedselverwerker om die sop te verpulp. Roer die koljanderblare en klappermelk by en maak deurwarm. Proe en voeg nog sout en peper by indien nodig.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+