Geroosterde soetrissie-en-tamatiesop

Jy sal nooit weer na enige ander tamatiesopresep kyk as jy eers hierdie een geproe het nie. En as jy een van daardie vitterige mense is wat glo sop hoort net op ‘n winterspyskaart, kan jy jou hieraan troos – dis ewe lekker warm en koud.

Jy het nodig

1 kg ryprooi tamaties (wat so ryp is dat dit nie meer geskik vir slaai of ander gebruik is nie)
3 middelslag uie, in kwarte gesny
3 knoffeltoontjies, geskil en gekap
3 rooi soetrissies waarvan die pitte en wit verwyder is en in stukke gesny
75 ml olyfolie
1 opgehoopte eetlepel gerookte Spaanse paprika
1,5 l vleisaftreksel
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Só maak mens

Rangskik die tamaties in ’n oondroosterpan. Sny die tamaties in kwarte. As jy klein tamatietjies (rosa of kersietamaties) gebruik, kan jy dit net so heel hou. Plaas die uiekwarte, knoffeltoontjies en soetrissies tussenin, sprinkel die olyfolie en paprika bo-oor en rooster net so oop vir ongeveer 40 minute in ’n voorafverhitte oond van 200˚C. Gooi alles oor in ’n groterige kastrol, verpulp met ’n handmenger of voedselverwerker en roer die vleisaftreksel by. Geur met sout en peper na smaak en laat dit vir ongeveer 10 minute op ’n stoofplaat oor middelmatige hitte prut.

Wag en luister hoe die verstommende stilte oor jou tafelgenote neerdaal voordat hulle in liriese lofsange losbars