I love you, Ma

Ons gesels dik stukke so oor die mengbakke en tussen die warm oonde in my klein kombuisie vasgevang. Veral noudat Jason, die nuwe baas van The Stud Bar, Maswazi se potensiaal raakgesien  en hom assistent-sjef gemaak het. Sulke gemeenskaplike sjef-tot-sjef geselsies. Hy vertel my al die stories van die kombuis daar.

Ons bespiegel oor Oscar (ek en Maswazi het weke lank die hofsaak oor televisie gevolg) en hy kan nie wag om hom Pollsmoor toe te stuur nie. Maak nie saak van geografie en sulke dinge nie – Maswazi wil almal wat skelm is en ander kwaad aandoen Pollsmoor toe stuur. Opsluit en die sleutel wegmoer.

En moenie eens begin met die politiek nie . . . as Maswazi eers lostrek is daar geen keer aan hom nie. Hy is ‘n Malema-man. Soms kan ek die versoeking nie weerstaan nie en gooi van Malema se mees kontroversiële uisprake oor witmense teen sy kop. Dan lag ons maar.

Die lekkerste tye, toe die restaurant ‘n ruk lank gesluit was, was om saam met Maswazi parlementsitting op televisie te kyk. Dit was beter as sepiekyk en ek kan nie onthou wanneer laas ek so lekker gelag het nie

Hy praat min oor sy mense. Dis die mense wat niks van hom wou weet toe hy op straat beland het nie. Ek weet net van die suster wat nou skielik, vandat sy weet hy het blyplek en werk, kom geld soek. Vir skoene. Vir hule pa. Vir wat ook al . . .

Ons gesels dikwels ook die liefde. Die meisies op wie hy ernstig verlief raak word met groot seremonie na my gebring vir ‘n ontmoeting. En ek beleef ook die hartseer van gebroke verhoudings saam met hom, want Maswazi is ‘n man wat diep voel. Hy praat nie daaroor nie. Ek weet net. En troos maar met soppe en bredies. Of varkribbetjie waarvoor hy so lief is.

Hy waak jaloers oor vriendskappe en mense wat my lewe binnekom. Ook by die mark met die mense wat voor my tafel te staan kom. Met net ‘n gebaar of ‘n skalkse verwysing weet ek presies wat Maswazi dink. En dit gebeur nie baie dat hy verkeerd is nie.

Vir Sagrysie beskou hy so half as ons kat, want dit was hy wat my aangemoedig het om hom by die veearts te gaan haal toe my hart nog baie rou was oor Cleo. Wanneer ek weggaan, kan ek ook gerus wees want ek weet Maswazi kyk baie mooi  na die kleinman.

Die jong Xhosa-man wat so ongevraagd een oggend by my vullisdrom in my lewe gekom het, het diep in my hart gekruip. Ek was nooit ma gewees nie, maar dis die seun wat aan  my toegewys is – byna soos Johannes en Maria in die Bybel.

Hy het al eenkeer vantevore in ‘n onbewaakte oomblik gesê ek is sy ma. Maar vanoggend het hy my heeltemal omgeêllie toe hy voor hy stasie toe gaan om die trein te haal vir ‘n kuiertjie in Khayaletsha, na my toe draai en sê:  “I love you, Ma.”

Net so.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+