Karen Hart

karenMy kosreis het begin toe ek met my eerste man getroud was en skielik oor die wintertyd met ’n vrieskas vol wildsvleis van die plaas af gekonfronteer is. Ek het afgesit na die enigste boekwinkel op Graaff-Reinet en vir my ’n Kook en Geniet gekoop. Toe het ek myself begin leer. Vandag sit ek met duisende kookboeke, elkeen geliefd en voos gelees. Die bietjie kook van destyds het ’n groot liefde, byna obsessie, geword.

Maar as ek mooi terugdink, het die betowering my kleintyd al begin beetkry. Ek was nog altyd gefassineer met die kombuis, maar het nooit regtig die kans of die inspirasie gehad om dit behoorlik te ontgin nie.

Met my loopbaan as tydskrifjoernalis (wat in die TV-en-vermaakwêreld gespesialiseer het) was my kook tot na-ure en naweke beperk. Maar as die koors my behoorlik gepak het, het ek vroegoggend – soms selfs drie-uur – opgestaan om gou ’n nuwe resep te probeer voor ek regmaak om werk toe te gaan.

Toe beland ek boonop in ’n doodloopstraat met my werk. Gelukkig lees ek toe in daardie tyd die roman Julie & Julia, lank voor die fliek nog gemaak is. Net daar besluit ek – hierdie is die ideale manier om die twee groot liefdes in my lewe, skryf en kook, te kombineer. Dis waar my blog, Toorkombuis, toe sy ontstaan gekry het.Karen2

Die naam, Toorkombuis, het ek gekies omdat ek glo aan die betowering van die kombuis, nog altyd gefassineer is deur die alchemie van die kospotte. Ek sal nooit ophou om in verwondering te staan oor magiese proses waarin ’n paar eenvoudige bestanddele saamgevoeg word om ’n smaaksensasie te skep nie.

Ek het dit eintlik vir my eie genot gedoen en het so half verbaas gestaan toe mense op my blog begin reageer en ek navolgers van oor die hele wêreld kry (Afrikaanssprekendes wat ver buite die landgrense huis toe verlang!) En hier, nader aan die huis, het ek soveel reaksie en aansporing van nuwe kubervriende gekry.
Karen3
’n Engel van ’n grootbaas lees toe ook Toorkombuis raak en vra my of ek vryskut vir ’n nuwe tydskrif wil kook. Die vryskutwerk het toe later ’n voltydse beroep geword en vandag kook en skryf ek vir twee tydskrifte, Kuier en Mine!
Maar met my obsessie is dit nog lank nie genoeg nie. En toe Isabella Niehaus my nooi om ’n tafel by haar mark, The Market at The Palms, vol te pak met my gebak en daar te verkoop, het ek nie ’n oomblik gehuiwer nie. My Romany Creams en malvalekkers, my twee beste verkopers op dié mark, het vir my nog buite-bestellings ook ingebring. Ek voorsien Molly & Mason in die Steenberg Village-winkelsentrum, Tokai en kry gereeld ander bestellings.

Dis harde, harde werk. Maar ek kan aan niks anders dink wt my soveel bevrediging gee nie. My werk as vermaakjoernalis het my tot in die hartjie van Hollywood geneem. Ek was op die stelle van die meeste sitkoms en reekse wat hier by ons gewild was. Ek het in die kleedkamers van die sepiesterre op die stel van Days gekuier. Ek het onderhoude gevoer met van groot sterre soos Anthony Hopkins, die spelers van Friends ontmoet… en so kan ek voortgaan met ’n eindelose lyse wat oor die twintig jaar strek.

Maar niks het my nog ooit soveel bevrediging gegee soos dit wat ek daar in my klein kombuisie ervaar nie. En ek wil dit graag deel. Iemand het my nou die dag gevra of ek dan nie omgee om my resepte uit te gee nie. Nee, sê ek toe, ek het nie kinders nie en dis my nalatenskap dié.

Karen4

Karen in the media

RSG het op 11 Julie 2014 ’n profiel gedoen oor Karen en Toorkombuis.

 

In December 2014 Karen featured as Chef of the Month on Spekko’s website.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+