Kattekwaad

Kleine Cleo is nie ’n skootsitnommertjie nie. Sy is ’n opstêrs feeks van ’n kat wat g’n toenadering duld nie, ’n hardkoppige klein klits wat geen rede verstaan nie. Maar saans, as ons twee alleen is, word sy sag soos malvalekker. Dis dan wanneer sy op my hart kom lê en my met haar voorpootjies omhels. En ek weet – hierdie klein heksekind met haar groot groen oë het soos my asemhaal geword, onlosmaaklik deel van my.

Sy het die manier, soos alle katte maar het, om vir haar ’n kolletjie uit te kies waar sy vir die volgende paar dae, soms selfs weke, gaan snoesel. Hierdie afgelope twee weke was dit my eetkamertafel met sy mooi swart tafeldoek met die Afrikaanse spreekwoorde. Sy het mooitjies in haar hoekie gelê en my en Maswazi ’n hoekie gegun waar ons in vrede kon aansit om te eet.

Maar toe ek Dinsdag ’n skakelbeampte van ’n groot voedselgroep hier met tee onthaal en my tafel mooi gedek staan, het ek ’n ernstige gesprek met die kleine Cleo aangeknoop en haar mooi veduidelik waarom sy nie op haar gunsteling-plekkie kon gaan lê nie.

Gelukkig, het ek by myself gedink, hink sy reeds op twee gedagtes – die katkruiplant in my vensterbank groei mooi en sy het besluit dis tyd om dit plat te lê. Haar dag het sy mooi tussen die twee verdeel – ’n paar uur op die tafel en die res van die dag bo-op haar katkrui. (Dit is immers spesiaal vir haar geplant.)

Cleo het my so effe takserend aangekyk terwyl sy na my verduideliking luister en doelgerig op die tafel afgestap. Hierdie keer het ek ietwat fermer herhaal wat ek reeds op ’n mooi manier probeer sê het en die reëls neergelê. Sy het net daar omgedraai en al miaauend by die deur uitgeloop. Ek kon sweer sy vloek my.

Sy het eers weer teruggekom toe ek en die skakelbeampte goed aan die gesels was. En sommer van die deur af al het sy van haar laat hoor, reguit op die tafel afgestorm en viervoet vasgesteek toe ek weer die reëls baie ferm vir haar uitspel. Sy het net so kliphard teruggepraat en dit het op ’n volskaalse argument uitgeloop.

Ek is al so gewoond aan ons gesprekke en Maswazi het dit al gelate aanvaar. Maar toe ek opkyk en die skakelbeampte se gesig sien, besef ek skielik hoe vreemd dit vir ’n buitestaander mag lyk. “Dit lyk dan asof sy alles verstaan wat jy sê en jou boonop antwoord,” sê sy verwonderd.

Ek besef toe hoe snaaks dit lyk en begin lag. Ek hoef seker nie een te sê hoe die storie verder verloop het nie. Ja, Cleo het haar sin gekry. En ons besoeker het haar so verstom aan die hardekwas kat en my kekkelende hekse dat die vergadering wat aanvanklik vir ’n uur en ’n half beplan is, ’n vier-uur-lange-kuiersessie geword.

Wat vorentoe gaan gebeur, weet ek nie. Òf die vrou gaan besluit om my by al haar projekte te betrek òf sy gaan besluit: Vir hierdie malletjie sien ek nie kans nie!