Koningskos met ‘n klankie

Ek was eerstejaar en Dingetjie vierdejaar toe ek in dieselfde universiteitskoshuis as sy beland het. Sy was pragtig – heuplengte blonde hare, klein, fyn en petite, met rondings op al die regte plekke. Sy het nie juis ‘n tekort aan manlike bewonderaars gehad nie en was feitlik elke aand saam met ‘n ander ou uit.

Natuurlik het sy ook die venyn by die ander koshuisbewoners aangewakker en dit was ook nie lank voor die giftonge ‘n klankie aan haar naam laat kleef het nie. (Vroue kan so onverdraagsaam wees teenoor ander wat met meer geseënd is.) Die feit dat sy feitlik elke keer die aandklokreël verbreek het en telkens uitgesluit is, het natuurlik nie dinge makliker gemaak nie en sy was ‘n hele paar keer op die rooi tapyt voor huiskomlede wat met saamgeperste lippies hul afguns kwalik kon verberg.

Maar Dingetjie se dag het gekom. Ná universiteit het sy vir haar naam gemaak – een sonder ‘n klankie. Ek het haar telkens op professionele vlak teengekom en was elke keer verstom oor die mens agter die stories.

Later jare het ons mekaar meer dikwels op plekke in die buurt raakgeloop – in die videowinkel, voor die rakke van Woolies en elke keer het ek gevoel ek is deur ‘n engel aangeraak. Maak nie saak hoe goor ek daai dag gevoel het nie – sy het elke keer iets moois te sê gehad en my goed oor myself laat voel.

En toe ek hierdie blomkoolsopresep gekook het, kon ek nie anders as om aan Dingetjie te dink nie . . .

Kyk, blomkool kan jy nie kook sonder dat daar ‘n klankie in die huis rondhang nie. Daar is verskillende rate oor hoe om dit minder te maak, maar op die ou einde bly kool maar kool.

Maar gaan lees ‘n bietjie op oor hierdie onwelriekende blom wat deur die ou Romeine gekweek is. Die voedingswaarde is ongelooflik. As jy elke dag ‘n porsie blomkool eet, hoef jy nie kanker of rumatiek te vrees nie. Dis nie ouvroustories nie – navorsers aan verskillende universiteite het eksperimente gedoen. Borskanker, kanker van die blaas . . . noem maar op. En met die kombinasie van blomkool en borrie sal die manne nooit prostaatkanker kry nie.

Moenie dat die eenvoud van die resep jou afskrik nie — dis heerlik. Die eindresultaat sal jou smaakbekertjies laat huppel en sing. Nou die dag, toe my groenteman vir my die heerlike vars blomkool bring, het ek onmiddellik die soppot nadergetrek. Dis toe dat ek weer aan Dingetjie dink . . .

100g gesoute botter
1 kg vars blomkool in klein blommetjies gebreek
1 groot ui, grofweg gekap
4 knoffeltoontjies, geskil en gekap
3 takkies vars tiemie
2 lourierblare
800 ml hoenderaftreksel
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Smelt die botter in ‘n kastrol en braai die ui liggies daarin tot sag en deurskynend. Roer die knoffel en blomkoolblommetjies daarby. Voeg die tiemie en lourierblare by en braai liggies voordat jy die hoenderaftreksel byroer. Laat dit stadig kook totdat die blommetjies sag is. Verwyder die lourierblare en tiemietakkies en verpulp die sop met jou handmenger of laat effens afkoel en verpulp in jou voedelsverwerker. Verhit die sop weer oor ‘n matige hitte (as jy dit eers laat afkoel het vir die voedselverwerker). Proe eers voor jy die sop met sout en peper geur – dis eintlik oorbodig. Nou gaan sit jy met jou bakkie eenkant en geniet dit. Dis tot slurpens toe lekker!

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+