Kruie-en-groente-hoenderskotteltjie

Die Franse noem dit poule au pot en dit het alles begin by die goeie koning Hendrik die Vierde. Hy het bepaal dat al sy onderdane ten minste een keer ’n week – verkieslik Sondae — ’n pot hoender en groente op die stoof moet hê.

En as die mense te arm was om self die bestanddele te bekom, het die goeie koning gesorg. Natuurlik het die skottels op die koningstafel so ’n bietjie weelderiger uitgesien as dié op sy onderdane s’n, maar die basiese bestanddele – hoender, groente en vars kruie – was presies dieselfde.
Onder daardie gepoeierde pruik was ’n verstand wat verder gedink het as die weelde-kossies op sy eie bord. Die dieetkundiges van vandag sal vir jou presies kan sê hoe ver die Franse koning sy tyd vooruit was.

Vir my werk die koning se potjie baie goed. Ek noem dit sommer my drie-in-een bonuspot. Die bonus is vir al die verrassing wat nog in daardie pot skuil. Dis soos die weduwee se kruik – dit gee en gee en gee…

Dis wonderlik om te sien hoe ver ’n mens met so ’n hoenderpotjie kan kom. Jy kan natuurlik die hoender en groente opdien met lekker brood om die sousies uit jou bord uit op te vee. Geskep oor rys of kapokaartappels is dit net so lekker.
Of – as jy dit nie noodwendig vir ’n Sondagmiddagmaal wil maak nie en jy dit verder wil rek om die week makliker te maak – is daar ’n hele paar opsies. (Die oorskiethoender – as daar nog oor is – werk net so goed. Ek maak die resep gewoonlik dubbel – dan kook ek sommer klaar vir die hele week en jy spaar boonop elektrisiteit!)

Vir jou basiese Poule au Pot het jy nodig

1 heelhoender
1 heel ui
½ suurlemoen
1 rooirissie, in die helfte deurgesny
3 oorloop eetlepels olyolie
2 gekapte uie
3 gekneusde knoffelhuisies
1 vars gemmerknoets van ongeveer 3 cm, geskil en in blokkies gekap
3 kleinerige selderystingels in blokkies gesny
3 gesnyde preie, net die wit dele
3 wortels, geskil en in sirkeltjies gesny
1 oorloop eetlepel tamatiepasta
’n goeie handvol gekapte pietersielie
1 liter hoenderaftreksel
Sout en peper na smaak

Só maak mens

Sit die heelui, halwe suurlemoen en twee helftes rissie in die holte van die hoender. Braai die gekapte uie in die olyfieolie in ’n lekker, groterige swaarboompoot. Voeg die knoffel, gemmer en die res van die groente en pietersielie by en laat so ’n paar minute lank sweet. Sit die hoender op sy groentebedjie en gooi die aftreksel by. Sit die pot deksel op en laat vir so ongeveer een en ’n half tot twee uur lank kook. (Dit sal alles afhang van hoe groot jou hoender is.) Proe en geur met sout en peper na smaak.

Haal die hoender uit en plaas dit versigtig in ’n opdienskottel. Skep die groente met ’n gaatjieslepel uit sodat die sous in die pot aterbly en rangskik rondom die hoender. Jy kan nog ’n bietjie vars gekapte pietersielie byvoeg voordat jy dit opdien met brood, rys of kapokaartappels.