Malvalekkers

Niks kom by tuisgemaakte malvalekkers nie. Dis ’n liefdesfees op sy eie.

Lewer ongeveer 48 blokkies (afhangende van die grootte). 

Jy het nodig

2 koppies suiker
2½ eetlepels gouestroop
1 koppie water
2 eetlepels gelatienpoeier
6 eetlepels water
2 eierwitte
’n knippie sout
1 teelepel vanieljegeursel
Rooi voedselkleursel
5 eetlepels versiersuiker
5 eetlepels mielieblom (Maizena)

Só maak mens

Verhit die suiker, gouestroop en koppie water saam oor matige hitte tot kookpunt. Laat ’n hele rukkie staan en kook (ongeveer 20 minute of meer) totdat die hele oppervlak later met borrels bedek is (as jy ’n temperatuurmeter het, sal dit 120̊C lees).

Terwyl jy die suikerstroop kook, giet die 6 eetlepels water in ’n klein bakkie en sprinkel die gelatienpoeier liggies bo-op. Laat ongeveer 15 minute lank staan. Wanneer die suikerstroop gereed is, haal dit van die stoofplaat af en roer die gelatien by totdat dit heeltemal opgelos het.

Klits die eierwitte tot styf met die knippie sout en voeg die vanieljegeursel by. Voeg diie suikerstroop in ’n dun straaltjie by die eierwitte terwyl jy heeltyd klits. Klits dit aanhoudend vir ongeveer 5 minute.

Meng die versiersuiker en mielieblom en sprinkel 2 eetlepels daarvan in ’n gesmeerde vierkantige pannetjie. Giet die helfte van die mengsel in die pannetjie en maak die oppervlak gelyk.

Meng ’n druppel rooi voedselkleursel by die res om ’n mooi pienk kleur te kry en giet bo-op. maak mooi gelyk en laat vir minstens 2 uur staan om te set. Haal dit uit die pan en sny in klein blokkies.

Gooi die res van die versiersuikermengsel op ’n plat bord en rol die blokkies soos jy dit gesny het in die mengsel sodat hulle nie aan mekaar kan vassit nie. Bêre in ’n lugdigte houer.