Marktafel van drome

Eendag as ek groot is . . . gaan ek bak vir ‘n tafel by die mark. So het ek gedroom. Selfs ná ek vyftig geword het – en na jare van kook en bak, het ek soos ‘n klein dogtertjie gevoel wat per ongeluk in haar ma se kombuis beland het. En steeds gedroom van eendag . . .

Ek het so half per ongeluk by die mark by The Palms beland, maar van die eerste oomblik af het ek geweet: dis mý mark hierdie. Dis my droom.  Die ligstrale wat deur die dakvensters in die hoë plafon neersif op die kleurvolle tafels en die berg geraam in al sy glorie in die groot venster aan die voorkant.

mark1

Hier het ek my skielik bevind tussen mense wat my kospassie deel, nie opgeblase grootpraters wat meen hulle regeer die kulinêre planeet nie.  Ek was skielik nie meer die malletjie wat vroeg opstaan om te kook en te bak nie. Elkeen met ‘n tafel daar, bestee soveel tyd en sorg om net die beste produk te lewer. Die ouens wat afskeep en net vinnig ‘n geldjie wil maak, hou nie lank nie.

En die mense wat daar kom koop, maak nie net hul beursies oop nie, maar ook hul harte. Die vrou wat haar talentvolle seun, ‘n operasanger, verloor het toe hy tragies in Amerika met ‘n motorfiets verongeluk het. Sy praat. Maar daar is ook ander, elkeen met sy eie storie, wat die hartseer stil na binne keer en die lekker samesyn van die mark opsoek.  En met elke happie tuisgebak en los praatjies so tussen die kopies deur, sien ek ‘n vreemde vredigheid in donker oë kom lêmark2

Daar is die gereelde en bekende gesigte, dié wat later vriende word. Ek is van nature skaam, maar wanneer ek oor my Romany Creams en malvalekkers gesels, val die skuheid soos ‘n kleed van my af. En my koekies reis die hele land vol – Bloemfontein, Pretoria, Niewoudtville. Pakkies word in kilogramme bestel vir die reise na Londen, New York . . . Dis lekker om die suiwer genot op kinders se sjokoladebesmeerde gesiggies te sien, om die byna skok en ongeloof met die proeslag by die grootmense te ervaar.

mark5Saterdagmiddae wanneer ek by die huis kom, is ek op soos ‘n ou pik, soos oorlede Dirk altyd gesê het. Elke spier in my lyf is seer. Maar dis ‘n lekker moeg en my hele wese jubel. Dis ‘n jubeling wat ek koester en my tot in die Sondag in dra. Met ‘n hart wat so vol is, is daar nie plek vir die Sondagsmart wat my so lank ondergekry het nie. Ek skryf elke Sondagoggend ‘n liefdesbrief aan die mark.  Dit bly in my kop – ek is so bang wanneer ek begin tik, is daar geen einde aan die woordvloed nie. Maar nou kan ek nie anders nie

Die Valentynsdagmark was ‘n hoogtepunt. My broer en suster het my kom verras, ook my buurvrou in die hoekhuis en haar huismaat. En om hierdie mark te vier, het ek weer my spesiale vyekoek, nog ‘n wenner,  gemaak.

Ek deel graag die resep:

<bold>Vyekoek vir ‘n baie spesiale markdag<bold>

Vir die stroop:

113 g botter
½ koppie ligbruinsuiker
2 eetlepels heuning

10 -15 vars vye, steeltjies verwyder en in die helfte deurgesny

Vir die koek:

226 g sagte botter
¾ koppie suiker
½ teelepel vanielje-ekstrak
2 eiers
1½ koppies koekmeelblom
1½ teelepels bakpoeier
¼ teelepel sout
¼ teelepel kaneel
½ koppie melk

Maak die stroop: Smelt die botter in ‘n kastrolletjie en roer die suiker en heuning by. Bring tot kookpunt en kook vir 4 minute terwyl jy die heeltyd roer totdat die mengsel glad en dik is. Laat dit effens afkoel en giet dit onderin 4 x 10 cm losboom-minikoekpannetjies, gesmeer en met bakpapier gevoer. Rangskik die vye met die snykant na onder in die stroop. Maak nou die koekbeslag: Room die botter en suiker saam in ‘n groterige mengbak. Klits 3 – 4 minute tot lig en romerig. Voeg die vanielje by en dan die eiers, een vir een. Klits goed na elke byvoeging. Sif die koekmeelblom, bakpoeier, sout en kaneel saam in ‘n ander bak. Voeg die meelmengsel en die melk alternatiewelik by die botter-eiermengsel en eindig met die droë mengsel. Skep die deeg bo-op die vye in elk van die pannetjies en bak vir 25 – 30 minute in ‘n voorverhitte oond van 180⁰C. Laat staan in die pannetjies totdat die koekies heeltemal afgekoel het. Haal versigtig uit die pannetjies en keer versigtig om op’n draadrak sodat die vyekant na bo is.