Maswazi se Tafelberg-potjie

Sommige dae gaan dit maar rof hier in die Toorkombuis, veral wanneer ons vir ‘n groot bestelling moet bak of voorberei vir Saterdae se markte. Dan moet ek mooi dink wat ek vir ons vir middagete gaan voorsit – iets wat vinnig en maklik is, lekker vullend is en in almal se smaak val.

Toe ek hierdie potjie uit radeloosheid aanmekaar geslaan het, was ek ‘n bietjie skepties hoe hierdie smeltpot van Mediterreense smake ontvang sou word. Maar ek was verniet bang. Hierdie een is nou baie hoog bo-aan die trefferlys en ek maak dit gereeld. Wanneer hy vir hom van hierdie potjie skep, sê Maswazi, lyk sy bord soos Tafelberg, lekker hoog gestapel. Dis een van sy groot gunstelinge.

Mediterreense pasta-en-maalvleisskottel

Genoeg vir 4

3 eetlepels olie
2 groot uie, fyngekap
1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, naatjies en pitjies verwyder en fyngekap
300 g maalvleis
1 groot of 2 kleiner rooi soetrissies, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repies gesny
4 murpampoentjies,in ringetjies gesny
1 x 250 g houer knopiesampioene, in skyfies gesny
1 eiervrug, in blokkies gesny
4 klein of 2 groot tamaties, opgekap
1 eetlepel vars gekapte origanum of 1 teelepel droog
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
3 koppies beesvleisaftreksel
⅓ – ½ van 500 g pak spaghetti, in stukkies gebreek

Verhit die olie in ‘n swaartboomkastrol en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffeltoontjies en brandrissie by en braai nog vir ‘n minuut of twee. Voeg  die vleis by en roer met ‘n vurk sodat daar nie klonte vorm nie. Braai totdat die vleis heeltemal verkleur het en lekker lossies is. Voeg die soetrissies by en braai vir ‘n paar minute saam voordat jy die murgpampoentjies, sampioene, eiervrug, tamaties en origanum byvoeg. Meng alles goed saam en geur met sout en peper.  Giet 2 koppies van die aftreksel by, verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 20 minute prut of totdat die groente mooi sag en die vleis gaar is. Roer die spaghetti by en voeg die oorblywende koppie aftreksel by indien die vleistof te min is. Laat vir 20 minute prut of totdat die pasta sag en die vloeistof weggekook het. Bedien met ‘n lekker vars slaai.

WENK: Dis beter om een koppie van die aftreksel terug te hou omdat dit moeilik is om te voorspel hoeveel vloeistof uit die groente gaan kook. Die meeste van die tyd sal dit wel nodig wees om die derde koppie aftreksel by te voeg wanneer jy die pasta in die pot sit.

 

 

 

 

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+