Miesies Larrabee en die goud-in-die-mond-roomys

Dit het alles begin as  ʼn grappie. Heel moontlik het die uitreiking van die nuwe weergawe van die rolprent Sabrina my pa weer laat onthou. Hy was dol oor die oue met Audrey Hepburn, maar het gou voor Julia Ormond geswig. 

Die aanhaling wat hy opgeroep het, het egter niks met die twee skoonhede te make gehad nie. “It never rained on the night of the Larrabee party. The Larrabees wouldn’t have stood for it,” het hy graag aangehaal en spottenderwys na my verwys as Miesies Larrabee.

Daardie tyd was ek met Nommer Drie getroud en het op die groen gordel in Constantia gewoon. Ek was toe al lief vir kook en het gereeld tafel gedek onder die bome. En vreemd genoeg, op die dae wat ek my etes gehou het, het die weer soos ‘n gehoorsame skoothondjie saamgespeel.

Die stormwinde sou om die hoeke van die huis huil en die reën teen die glasdeure en –vensters neersliert. Maar ‘n uur of twee voor die kos uitgedra moet word, het die hemele oopgetrek en die dag was volmaak.

Dit was alles natuurlik blote toeval, maar dit het so gereeld gebeur dat my pa later sy eie grappie geglo het. En die dag toe ek die laaste keer vir hom gekook het voor sy dood, was die volmaakste. Die kos, die weer, die samesyn . . .

Ek kon nie anders as om nou die dag weer in my binneste te giggel en aan my pa se grappie te dink nie. Kuier se kunsredakteur is dol oor my goud-in-die-mond-roomys en toe hy nou die dag die groot vas breek, het hy half in ‘n grap gewens vir ‘n bakkie daarvan.

“Dis winter,” het ek laggend geprotesteer. Maar toe die dag van die fotosessie, die eerste een ná sy groot vas, aanbreek, het ek ewe gedwee die bros goud van die “heuningkoek” gemaak, fyngekap en room en kondensmelk geklits om dié roomys te maak. Ek het die oggend nog, toe ek winkel toe is, bibberend my ou velbaadjie aangetrek en gewonder oor die roomys op só ‘n dag.

Toe Nithaam en fotograaf Misha twee-uur die middag inklok vir die fotosessie, het die winterson in al sy glorie deurgebreek en die dag was sonnig en warm. En ek het my pa se hand warm hier op my skouer gevoel en sy glimlag tot diep in my hart voel reik.  “Ou Miesies Larrabee . . . “

My goud-in-die-mond-roomys

Genoeg vir 8 – 10 porsies

1 koppie strooisuiker
4 eetlepels goue stroop
2 teelepels koeksoda
1 x 397 g blikkie kondensmelk
5 koppies room
2 teelepels vanielje ekstrak

Verhit die strooisuiker en stroop in ‘n kastrol oor lae hitte totdat die suiker ook smelt en stroop word. Laat die mengsel kook totdat dit ‘n diepgoud karamel word. Klits die koeksoda by en gooi die skuimbolle onmiddellik uit op ‘n gesmeerde bakplaat. Laat dit heeltemal afkoel en kap dit dan in stukkies (nie te fyn nie). Plaas die kondensmelk, room en vanielje saam in ‘n groot mengbak en klits totdat dit sagte punte vorm. Vou die stukkies goue “heuningkoek” deur die room,mengsel. Skep dit in ‘n plastiekbak met ‘n deksel uit, bedek en vries. Dit neem ongeveer 4 – 5 uur voordat die mengsel soliede roomys word.

Maar wees gewaarsku: dis verslawend. Dis die soort roomys waarvan jy selfs diep in die winter bly droom.