’n Fiktiewe kennis

As daar nou een boekkarakter is wat ek so goed ken en verstaan asof ek haar self geskep het, is dit Jasmine March in Nina Killham se How to Cook a Tart. Dis ’n heerlike, skreeusnaakse boek wat ek bloot oor die titel gekoop het en nou een van die voosgeleesde gunstelinge op my rak is.

“Jasmine still remembered the first time she saw a cookbook. Fourteen and in urgent need to rid herself of her virginity, she had offered it to one seventh-grade boy before finally withdrawing the offer after twenty minutes of his ineffectual groping. As she flounced downstairs from his bedroom, she caught sight of his mother’s bookcase filled with brightly coloured cookbooks. She sat down as if struck like a gong and began to read, amazed at the heaven before her.

“She read the cookbooks like novels, each recipe a chapter. The list of ingredients was the beginning, the instructions the complication of the story, the presentation the climax, and the optional substitutions, if any, the denouement.”

Een van die eerste resepteboeke wat ek present gekry het, was van die suster van ’n ou met wie ek op universiteit uitgegaan het. Dit was nie omdat sy geweet het van my geheime liefde nie – sy het nooit juis belang gestel om my werklik te leer ken nie. Ek dink dis bloot omdat sy gemeen het dat ek soos sy, ernstig besig was om “trousseau” bymekaar te maak.

Ek kan nie onthou wat die naam van die boek was nie, net dat dit hoogdrawend en pedanties was en waarskynlik geskryf is deur ’n tannie met ’n tweestukpakkie en stywe kapsel. Ek glo haar dahlias het op aandag gestaan in haar tuin en iets guitigs soos kappertjies is daar doodeenvoudig nie geduld nie.

In elk geval, sy skryf van ’n noenbyt (dis nou haar grênd Afrikaanse woord vir brunch) en noenmaalrolletjies. Dis nou lekker broodrolletjies wat jy saam met lekker dik botter saam met jou middagete geniet, maar die naam alleen is genoeg om jou permanent sooibrand te gee.

Hier op die heilige Sondag dink ek toe ’n lekker resep uit vir “noenmaalrolletjies” en as jy na die bestanddele kyk, sal jy verstaan waarom ek die grênd tannie se pretensieuse naam uit die solder van my geheue gaan opdiep en afstof het.