‘n Grappie vir my pa

Ek het besluit ek gaan nie vandag hartseer wees nie. Hierdie Vadersdag gaan ek my verlange vier deur hier diep in my binneste saam met my pa te giggel.

My pa was ‘n man wat baie lekker kon lag. Hy was op sy dag ‘n vername onderwysman, ja, maar dit was sy ongelooflike sin vir humor wat hom deur die moeilikste tye gedra het.

Ek sien hom so voor my, hande gevou en diep peinsend voor hom staan en uitstaar terwyl hy ernstig luister, maar dis wanneer jy sy oog vang dat jy die derduisende duiwels sien dans en sien hoeveel inspanning dit hom kos om nie hardop te lag nie

Hy was ‘n opperste platjie wat graag poetse gebak het, ‘n onmoontlike terggees – iets wat ek in my tienerjare beslis nie waardeer het nie. Maar hy was nooit gemeen nie en het groot deernis vir mense gehad.

As hy vandag hierdie Vadersdaguitgawe van Kuier sou oopslaan, sou hy beslis hardop gelag het. My kosblaaie is vir die manne wat sit en sport kyk, lekker resepte – al moet ek dit nou self sê. Maar ek is die laaste mens wat jy met sport en sport kyk sal assosieer.

My eerste man was ‘n groot rugbyspeler. Ek was by elke wedstryd, maar kon steeds nie kop of stert uitmaak van wat op die veld aangaan nie. My onkunde sou waarskynlik op die ou einde groot probleme in die huwelik veroorsaak het as dit nie was dat dit binne sewe maande oor ernstiger probleme beëindig is nie.

My pa was nooit ‘n groot rugbykyker nie. Maar hy was lief vir skolerugby en toe hy skoolhoof was by die skooltjie op Volmoed het jy altyd baie lekker gelag vir die ouens van die dorpskool wat so skrikkerig was om die Volmoed-manne op die klippiesveld plat te duik. Hulle het net grasveld daar op Oudtshoorn geken.

My broer het nooit vreeslik rugby gespeel nie. Hy het kleintyd ‘n ernstige nekbesering opgedoen met bolmakiesie slaan en mag eintlik glad nie op ‘n rugbyveld gekom het nie. Maar hy en sy drie seuns kyk graag die groot wedstryde saam en maak ‘n hele gedoente daarvan.

In ons ouerhuis was ons salig onbewus en die groot rugby-oomblikke het eintlik half by ons verbygegaan. Die probleem vir my pa was dat die belangrike wedstryde in sy lekkerste hardlooptyd geval het. Hy was ‘n man wat marathons gehardloop het en sy Saterdagmiddag-oefensessie, net ná sy middagslapie, was vir hom die heel lekkerste.

Maar toe hy vir die soveelste keer op sy hardlooproete voorgekeer word met ‘n “Haai, Johan, kyk jy dan nie rugby nie?”, het hy besluit hy vroetel eerder in die werkswinkel wat hy vir hom in sy garage ingerig het. Die radio was aan sodat hy die wedstryd so in die verbygaan kon volg en die volgende dag by die kerk darem geweet het wie die wenspan en wat die telling was.

Ek deel vandag hierdie kosblaaie met hom. Ek sal lieg as ek sê dis spesiaal vir hom, maar ten minste kan ons saam daaroor giggel. Hy sou in elk geval dol gewees het oor die happies wat ek gemaak het. Veral die lekker toffiepoeding.

Maar vir jou Pappa, sou ek spesiaal roomys gemaak het om daarmee saam op te skep. Al is dit nou winter.

Anderste toffiepoeding

Hierdie is basies ‘n resep vir tradisionele toffiepoeding Met dié dat jy dit in die kolwyntjiepannetjies bak, verkort jy die baktyd en gee jy ‘n wonderlike tekstuur aaan die poeding wanneer jy die hopies in een bak meng en die krakerige gebakte gedeeltes tussenin beland. Dis die lekkerste lekker wat jy jou kan verbeel.

Genoeg vir 6

Vir die poedingkolwyntjiespoed

1¼ koppie koekmeelblom
2 teelepels bakpoeier
1⅛ koppie bruinsuiker
120 ml melk
1 eier
1 teelepel vanielje-ekstrak
3 eetlepels botter, gesmelt
⅔ koppie dadels, gekap
½ koppie okkerneute, gekap

Vir die bolaag
½ koppie bruinsuiker
4 eetlepels botter
160 ml kookwater

Vir die sous
½ koppie bruinsuiker
4 eetlepels botter
160 ml kookwater
Grofgekapte geroosterde okkerneute vir strooi

Meng die koekmeelblom, bakpoeier en bruinsuiker saam in ‘n groterige bak. Klits die melk, eier, vanielje en botter saam in ‘n afsonderlike bak totdat jy ‘n lekker romerige en gladde mengsel het. Giet dit oor die meelmengsel en meng. Voeg die dadels en neute by en vou in. Skep die mengsel in ‘n gesmeerde 12-gat muffinpannetjie, elke gaatjie omtrent halfpad vol. Sprinkel die suiker van die bo-laag oor elke gaatjie – net so ‘n bietjie minder as ‘n eetlepel oor elke gaatjie. Skep ‘n klontjie van die botter op elkeen en ongeveer 1 eetlepel van die kookwater oor elkeen. Bak vir 20 – 25 minute in ‘n voorverhitte oond van 190⁰C. Laat 5 minute staan en haal die individule hopies uit in een opdienbak. Maak effens stukkend en meng goed. Gooi die bestanddele vir die sous in ‘n kastrolletjie en bring tot kookpunt. Kook vir 5 minute en giet oor die bak. Sprinkel die okkerneute bo-oor en bedien warm met styfgeklitste room of vla.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+