‘n Wrap vir die somer – hoender-in-‘n-baadjie

Niks spel vir my só somer soos ‘n lekker wrap nie. So ‘n maaltyd-in-die-hand laat jou dink aan sambreelkos op sonnige strande of iets piekniekerigs onder koeltebome. Dis ook pure lekkerte op die tafel en lekker vinnig en maklik om te maak na ‘n lang en warm werksdag.

Hoender-in-‘n-baadjie

Genoeg vir 4

Vir die hoender en groente
2 teelepels paprika
2 teelepels fyn komyn
2 teelepels fyn koljander
¼ teelepel rissievlokkies
4 vellose, ontbeende hoenderborsies, in repies gesny
4 eetlepels olie
1 groot ui, gehalveer en in skyfies gesny
1 elk rooi en geel soetrissie, wit gedeeltes en pitte verwyder en in repies gesny
1 groterige murgpampoentjie, in vuurhoutjies gesny
sout en varsgemaalde swartpeper
1 eetlepel suurlemoensap

Vir die salsa
1 klein ui, fyngekap
1 ryp tamatie, fyngekap
1 avokado, geskil, ontpit en in blokkies gesny
1 eetlepel suurlemoensap
gerasperde skil van 1 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper

Om voor te sit
4 tortillas (of wraps)
suurroom

Meng die speserye in ‘n klein bakkie. Plaas die hoenderrepies in ‘n glasbak en sprinkel die helfte van die speserymengsel oor die hoender. Meng goed, bedek en laat staan vir 30 minute.  Verhit 2 eetepels van die olie in ‘n pan en braai die uie, soetrissies en murpampoentjie oor matige hitte tot sag. Skep die groente uit met ‘n gaatjieslepel in ‘n bak en hou warm in die louoond. Giet die res van die olie in die pan en braai die hoenderrepies saam met die res van die speserye oor matige tot warm hitte tot net-net gaar. Voeg die groente by. Geur met sout en peper na smaak en besprinkel met die suurlemoensap. Meng al die bestanddele vir die salsa en skep in ‘n bakkie. Verhit die tortillas in die oond of in ‘n droë pan. Skep van die hoender-en-groente-mengsel en ‘n bietjie salsa en suurroom op elke tortilla, vou toe en sit onmiddellik voor.