Op die vlerke van heimwee

Vandag, op pad huis toe van die winkels af, sien ek daar op die sypaadjie ’n vrou wat duiwe voer. In haar ligpienk sweetpak het sy daar gekniel terwyl die voëls om haar en bokant haar gefladder het. En ’n vreeslike heimwee het net daar van my besit geneem…

Toe ek nog daar teen die hange van Leeukop gebly het, kon ek nie voorbly met die voer van die voëls nie. Wanneer ek saans van die kantoor af by die huis kom, het so veertig, vyftig tarentale van alle groottes my ingewag – van babatjies wat styf langs hulle mammas loop tot opgeskote tieners wat byna so groot soos Pappa en Mamma is maar nog tog te vreemd sonder hul kammetjies lyk. En dan moet ek begin kos gee – fyngekapte mielies gemeng met fyn saadjies, sonneblomsaad en ’n hele kaboedel ander goed.

Nes ek die een lot gevoer het, daag daar weer ’n ander spul op en ek kon aan die grootte van die kleintjies sien dis nie dieselfde groepie as vroeër nie. Nee, hierdie veldrestaurant het sommige aande tot vier verskillende sittings gehad. Dit was ook nie net die tarentale nie – die duiwe het hulle soos skaduwees gevolg om die oorblyfsels gulsig op te eis.

Ek kon nie voorbly nie en dit het vir my gevoel asof ek by die troeteldierwinkel boer en nêrens anders rondhang as by die voëlsaadrakke in die supermarkte nie. My skouers was al uit hul potjie van al die swaardra aan die sakke en sakke saad.

Dan was daar natuurlik die bloubessiebederf wat ek spesiaal vir my poukinders gehou het. Dié het hulle sommer uit my hand geëet nadat hulle saam met die tarentale in die sade gewei het. En wanneer die seisoen verby was, moes Woolies help met die bloubessies ingevoer uit Poland en elders.

Klein Cleo-kat het so gewoond geraak aan haar pêlle wat by die voordeur rondhang en wag vir hulle kos. Dit was vir haar die lekkerste om plat op haar maag, met haar voorpootjies onder haar ingevou, haar maters dop te hou. Hulle het om haar rondgemaal, geen gedagte eens dat sy hulle sal bespring nie. Sy het my baiekeer kom vra om haar kosbakkie buitentoe te bring. Dan het sy daar tussen die voëls sit en eet.

(Dis waarskynlik waarom die kat verseg om hoender of enigiets met hoendergeur te eet – miskien het sy ’n voël-tariër geworduit simpatie met die tarentale!)

Dié voëlvoerdery kom van ver af, het ek nou die dag skielik besef. My oupa het my kleintyd, toe hy al bedlêend was, met ’n sakkie mieliegruis uitgestuur om die voëls te gaan voer. Daar was twee afgesaagde palmbome in die tuin op Prins Albert. Net die stompe het oorgebly en met dié dat dit effe afgesak het in die middel, het dit die perfekte voerbakke gevorm. Dis daar waar ek die mieliegruis moes strooi.

My oupa het op sy dag van die grootste voëlhokke gehad wat omtrent ’n hele erf beslaan het. Daarin het hy die mees eksotiese voëls aangehou. Dié het hy op sy reise versamel. Hy het ’n roltabakfabriek gehad en handel gedryf met ver plekke soos Malta. Maar lank voor my geboorte al het hy die hokke en die voëls aan die Queens Hotel op Oudtshoorn geskenk. Dis net met die liefde vir die voëls en die opdrag om te voer waarmee hy my die wêreld ingestuur het.

En dan was daar natuurlik ook die wonderlike lied uit Mary Poppins, Feed the Birds, wat kleintyd so ’n groot indruk op my gelaat het en vandag nog een van my gunstelinge is:

Early each day to the steps of Saint Paul’s
The little old bird woman comes.
In her own special way to the people she calls,
“Come, buy my bags full of crumbs.

Come feed the little birds, show them you care
And you’ll be glad if you do.
Their young ones are hungry,
Their nests are so bare;
All it takes is tuppence from you.”

Feed the birds, tuppence a bag,
Tuppence, tuppence, tuppence a bag.
“Feed the birds,” that’s what she cries,
While overhead, her birds fill the skies.

All around the cathedral the saints and apostles
Look down as she sells her wares.
Although you can’t see it, you know they are smiling
Each time someone shows that he cares.

Though her words are simple and few,
Listen, listen, she’s calling to you:
“Feed the birds, tuppence a bag,
Tuppence, tuppence, tuppence a bag.”

Daar is ook ’n wonderlike storie aan die lied verbonde. Dis deur Julie Andrews gesing, ja, maar die voëlvroutjie wat in hierdie toneel van die rolprent verskyn, is gespeel deur iemand vir wie Walt Disney, die vervaardiger van die prent, ’n groot bewondering gehad het – die aktrise en Oscar-wenner Jane Darwell. Sy was toe al diep in die tagtig en het nog hier en daar ’n rolletjie gespeel, maar het haar optredes tot een ’n jaar beperk. Sy het vir onse Walt laat weet sy het nie die geld of die blootstelling nodig nie en dankie, maar nee dankie.

Toe klim hy in sy limousine en ry na die ouetehuis waar sy gebly het. Oor ’n paar koppies tee het hy toe al sy sjarme gebruik om haar te oorreed om die rol te aanvaar. Sy het so gevlei gevoel deur sy aandag dat sy eindelik ingestem het. Walt het ’n limo gestuur om haar na die stel te neem. Dit sou haar laaste optrede voor die kameras wees.


 

Daar is iets ongelooflik bevredigend daaraan om voëls te voer. Hemelman, my kluisenaarbuurman van desstyds, het met ’n hele brosjure oor voëlkos by my aangekom met wonderlike rate en wenke oor wat om beseerde voëls of kuikentjies wat uit die nes geskop is, te voer. Nou die oggend, toe iemand ’n beseerde duif op sy voorstoep gelaat het, het hy lysie in die hand deur my koskaste kom snuffel en was baie vies toe hy niks kon kry nie. Al wat ek vir hom kon gee, was die botteltjie Rescue Remedy waarmee ek Gemmerkat kalm gehou het. Dit sou darem die duif se pyn bietjie minder maak.

Wanneer jy op ’n weesgelate of beseerde kuiken afkom, kan jy dit in ’n skoendoos wat met watte gevoer is op ’n warm plekkie ijn ’n stillerige donker kamer hou. En wanneer dit by die voerdery kom, is hier goeie raad:

Vir pasuitgebroeide kuikentjies

Jy het nodig

2 teelepels ProNutro
1 teelepel maaskaas of Bulgaarse jogurt
1 teelepel Purity (vrugtegeur) of fyngemaakte papaja
Warm water

So maak mens

Meng die ProNutro met die maaskaas of jogurt. Roer die Purity of papaja by en sorg dat die mengsel glad en sonder klonte is. Meng die warm water bietjies-bietjies op ’n slag by. Begin met ’n slap mengsel en maak dit effe stywer na so ’n dag of twee.

Trek die mengsel in ’n plastiek spuit op en voer die voëltjie kleijn bietjies op ’n slag al om die dertig minute. Gebruik maar jou oordeel en moenie die voëltjie te veel kos op ’n slag gee nie.

Vir neskuikens en amper volgroeide voëls

Jy het nodig

2 teelepels katkoskrummels
2 teelepels geblikte katkos (nie visgeur nie)
2 teelepels fyngemaakte hardgekookte eier (wit en geel)
½ teelepel vrugtepuree of Purity (vrugtegeur)

So maak mens

Week die katkoskrummels in warm water totdat dit baie sag is. Meng van die geblikte katkos met die geweekte krummels. Voeg die eier en die vrugtepuree by en meng goed. Sorg dat daar geen klonte is nie. Rol die mengsel in klein balletjies, plaas op ’n tandestokkie en hou dit elke uur of twee voor die voëltjie sodat hy dit van die stokkie kan afpik. Wanneer die voëltjie ophou om sy bekkie vir jou oop te maak, het hy genoeg gehad.

Vir baba-roofvoëls

Jy het nodig

½ koppie rou maalvlleis
½ koppie beenmeel
1 eetlepel geblikte hondekos

Só maak mens

Meng alles goed saam en rol die mengsel in klein balletjies. Plaas dit op ’n tandestokkie en hou na die vo:el toe uit. As hy verseg om te eet, kan jy dit langs die voël neersit. Hy sal mettertyd homself help. Moenie vergeet om te sorg dat daar ’n bakkie skoon water langs sy kos staan nie.

Maar die voerdery bly natuurlik ook nie net by die voëls nie. Ek het die wêreld ingekom, spot my vriende, met die oorheersende behoefte om ander kos te gee. Maar dit keer hulle nie om lustig mee te doen nie, veral nie wanneer ek my krummelkoek uit die oond haal en nog warm saam met ’n geurige koppie espresso voorsit nie.

Al wat oorbly is die krummels. En dié hou ek vir die paar skugter eenkant-duifies wat te bang is om saam met die ander te eet.

Jy het nodig

200g opngepelde amandels
140g suiker
1 teelepel vanielje-ekstrak
250g ongesoute botter
250g koekmeelblom
’n knippie sout

Só maak mens

Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer ’n losboomkoekpan met botter en besprinkel liggies met meel. Skud die oortollige meel af. Gooi die amandels in ’n voedselverwerker, maar moenie heeltemal fyn maak nie – jy soek so ’n bietjie growwigheid vir tekstuur.

Klits die eier en suiker en vanielje saam tot lig en romerig. Voeg die botter, meelblom en knippie sout geleidelik by. Roer die fyngemaakte amandels by en meng goed. Skep die deegmengsel in die koekpan en gebruik ’n houtlepel om dit effens plat te druk en te sorg dat die hele bodem van die koekpan bedek is. Bak vir ongeveer 40 minute of totdat die koek goudbruin is. Laat dit afkoel, maar sny in skywe voordat dit heeltemal koud is.

Soos ek gesê het, dis ’n krummelrige koek – moenie te veel stres as dit nie in perfekte skywe gesny kan word nie. Jy kan dit net so geniet of opdien saam met geklopte room wat met ’n titseltjie vanielje gegeur is.