Pappot van verlang

Ek is nie regtig ‘n ontbyt-mens nie. Gee vir my ‘n paar lekker koppies koffie en ek is doodgelukkig. Eers hier teen elfuur begin my lyf vra na meer. As ek kon kies, sou ek veel eerder vir ‘n lekker, lang middagete aansit. Ek is lief vir spek en eiers, ja, maar veel eerder vir ‘n ligte aandete of, as dit dan moet, ‘n laatontbyt (of noenbyt, soos die grênd tannies sê).

Maar dan sal ek skielik op ‘n Sondagmôre wakker word met die vreemde verlange in my en die pappot nader trek. En wanneer ek praat van pap is daar maar net één: mieliepap. Een van die grootste geskenke wat ek al gekry het, was die sakkie growwe mieliemeel uit Leeudoringstad se wêreld. Ek maak ‘n potjie krummelpap en eet hom net so, sonder melk, met net ‘n dik laag donkerbruin suiker wat onder my tande knars.

Dan dink ek ver terug aan Oupa Ben, die man wat in een kort vakansie hartsoupa geword het. Hy was die pa van my oom se tweede vrou, glad nie eens bloedfamilie nie en ek het nooit regtig nie kans gekry om hom beter te leer ken nie.

Ek was elf jaar oud toe ons saam met die nuwe aangetroude familie op Laaggenoeg, Oupa Ben se Bosveldplasie, gaan vakansie hou het. Saans het hy ‘n groot swartpot vol pap by die braaivleisvuur gemaak en soggens het ons die aanbrandsel saam met melk opgekook vir ontbyt gekry . Hy het dit “skoko” genoem. Die lekkerste lekker wat jy jou kan indink. So met die wakker word, kon jy al die koffie en pap ruik.

Nou die dag, toe die Belge by my gekuier het, vertel Hilde my hoe lief sy vir pap geword het. Sy het dit leer eet op haar en Gerrit se vele omswerwinge om ons land beter te leer ken. En daardie Sondagoggend trek ek my ysterpotjie nader en kook vir haar mieliepap. Terwyl ons so rondom die potjie sit en ontbyt eet, hou ons nabetragting en deel kosbare herinneringe.

Met dié kom Maswazi ingestap. Hy het die pappot net een kyk gegee, vir homself ‘n paar samoesas wat van die vorige dag oorgebly het in die mikrogolf warm gemaak en wou hom doodlag vir die papeters. Ná sy dae van bosslaap, sit hy nie sy mond daaraan nie.

Só het ek leer krummelpap maak:

(Die resep is genoeg vir 4 – 6 hongeriges)

4 koppies water
3 koppies mieliepap
sout na smaak
‘n paar klontjies botter (opsioneel)

Gooi die water in ‘n swaarboomkastrol of, nog beter, ysterpotjie. Voeg sout na smaak by (jy soek nie lawwe pap nie!) en bring tot kookpunt.  Sodra die water borrelend kook, verlaag die hitte en strooi die mieliemeel bo-op. Moenie roer nie. Sit ‘n deksel op die pot en laat staan net so op lae hitte vir 20 minute. Neem ‘n vurk en roer die pap liggies deurmekaar. Dis hoe jy jou krummels kry. Plaas die deksel terug op die pot en laat nou ‘n uur lank so staan op lae hitte. Moenie jou pot aanjaag nie. Dis vir rustig kook en langsaam uitswel. Roer ‘n paar klontjies botter deur die pap, indien verkies, en laat nog vir 10 minute prut sodat die botter goed kan intrek. Bedien met melk en suiker. Of lekker dik, volroom Griekse jogurt. Of karringmelk.

 

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+