Die wind waai woes hier in Woodstock. Die Suidooster is deel van die Kaap, ja, maar hier by ons, voel ons sy woede soveel erger. Dis asof Tafelberg van die lastige keffertjie wat hier aan sy regter-skeen hap, wil ontslae raak en met bolwange blaas om hom die see in te jaag. Na drie dae en drie bangmaak-nagte lyk dit darem asof hy nou tot bedaring gekom het.
Die sneeu lê wit bo-op Tafelberg en die wind sny snerpend hier om my huisie wat onder teen die hange hurk. Dis dan wanneer ek die warmte van rooi soek – die helder uitdagende rooi van die halfmas-handskoene wat die vrou met die sagte, warm hart vir my gebrei het.
Ek was eerstejaar en Dingetjie vierdejaar toe ek in dieselfde universiteitskoshuis as sy beland het. Sy was pragtig – heuplengte blonde hare, klein, fyn en petite, met rondings op al die regte plekke. Sy het nie juis ‘n tekort aan manlike bewonderaars gehad nie en was feitlik elke aand saam met ‘n ander ou uit.