Ubuntu in my kombuis

Een van die grootste lewenslesse vir my was die besef dat jy nie na willekeur besluit wanneer jy genoeg gedoen het om iemand te help nie. Ek het die kleine Cleo-kat uit die bosse ingeneem nadat sy lank swaargekry het by ’n Alzheimer-lyer en ’n opeenvolging van oppassers wat sonder toesig hul pasiënt en haar diere verwaarloos en stief behandel het.

Dit was wonderlik om te sien hoe die kat wat vir byna agt jaar van haar lewe gruwelik afgeskeep is, geleidelik begin ontluik het onder my liefde en sorg. Maar daar is dae wanneer haar skielike aggressie en moenie-aan-my-vat-nie-houdinkie my bitterlik laat verlang na die sagte troetellyfie van ’n minder gekompliseerde kat. En toe ek ’n jaar gelede vir Maswazi van die straat af geneem en werk en blyplek gegee het, het ek ook besef ek kan nie die dag na môre besluit dis tyd om hom weg te stuur nie.

Ek, my hele lewe lank kinderloos, het beslis nie gevra om op 54 ma te speel vir ’n 27-jarige jong man nie. Maar sonder my kleine diva van ’n kat en die seun van die Oos-Kaap wat so ongevraagd deel van my lewe geword het, sou ek soveel armer gewees het.

Nou die Saterdagoggend help Maswazi my, soos gewoonlik, om alles gereed te kry vir die mark by The Palms. Dié oggend was dinge so ’n bietjie meer gejaagd en deurmekaar as gewoonlik, want ek moes aan die kookkompetisie by die mark deelneem en Maswazi het skoorvoetend kom sê hy kan nie na my tafel kyk nie, want hy moet elfuur by die restaurant waar hy werk, aanmeld. Daar gaan ’n groot partytjie wees, vertel hy, ná ’n begrafnis. Vir my was dit nie so ’n groot probleem nie, want ek het geweet my mede-markmense sou my help.

Maar Maswazi het half skuldig gevoel en hy kon ook nie kleinkry dat mense ná ’n begrafnis wil partytjie hou nie. Met dié kom Ivan, my getroue taxibestuurder wat my elke Saterdag mark toe ry. Ivan is al gewoond aan die storie – met die inkomslag gaan hy reguit badkamer toe om hande te was sodat hy ook kan help. En toe hy hoor van Maswazi se probleem, verduidelik hy mooi vir hom: “Look now, Maswazi, when a baby is born you cry a tear for the life that lies ahead of him. But when someone dies, you celebrate the life he has had.”

Vir my was dit asof die tyd op daardie oomblik gaan stilstaan het, hierdie ongelooflik samevoeging van kulture in my klein Toorkombuis. Net daar, so tussen die gejaag deur, om ’n koppie koffie en ’n snytjie varsgebakte brood. En net soos wat ek probeer om stabiliteit te gee aan my twee optelkinders, is hierdie broodresep nou al vir jare lank my staatmaker.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+