Beetblare is vir my ‘n vreeslike groot weelde – dit gebeur maar min dat jy beet met blare en al op die supermark se groenterakke kry. Soms kry jy so ‘n paar verleptes aan ‘n bossie beet en jy moet omtrent jou verbeelding gebruik om die eertydse glorie raak te sien. Wat nog te sê geïnspireer word om ‘n dis daarmee op te tower.
Ek het nie eintlik planne gehad om my eie groentetuin te maak nie. My groot liefde is vars kruie. En toe Checkers met hul My Little Garden-veldtog die oulike klein saadpotjies uitdeel, het ek die groente eenkant gehou vir vriende wat wel hul eie groente kweek. Ek het by die kruie en die blommetjies gehou. Die enkele paar bete het so half per ongeluk tussen die kruie beland. En toe ek my kom kry, staan die sterk, gesonde bete tussen my Italiaanse pietersielie. Die bete self is maar klein en ek sal later ‘n plan daarmee maak. Maar daai beetblare . . . ai,mense!
Ek weet daar is mense wat glo sop is nie vir die somer nie, in elk geval nie warm sop nie. Maar ek maak ten minste eenkeer ‘n week sop – warm sop, En met elke lepelvol voel ek hoe die krag wat die hitte uit my gehaal het, weer terugvloei in my are.
Met die beetblare en ‘n pakkie rooilensies het ek die wonderlikste sop opgetower, heilsaam en lekker. Na ‘n bakkie vol daarvan, het ek weer kans gesien vir die wêreld en sy virusse.
Beetblaar-en-rooilensiesop
Genoeg vir 6
3 eetlepels olie
3 uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, fyngekap
1 groterige patat, geskil en in blokkies gesny
2 koppies rooilensies
1 bossie beetblare, in klein stukkies opgesny
1 eetlepel fenugriek
1 eetlepel komynsaad
1 teelepel borrie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
8 – 10 koppies hoenderaftreksel
gerasperde skil en sap van 2 kleinerige suurlemoene
Verhit die olie in ‘n swaarboomkastrol en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel en gemmer by en braai vir nog ‘n minuut of wat saam. Voeg die patatblokkies, rooilensies en beetblare by en meng goed voordat jy die fenugriek, komynsaad en borrie by roer. Geur met sout en peper. Roerbraai die mengsel vir so ‘n paar minute voordat jy die aftreksel byvoeg. Meng goed en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat vir ongeveer 20 minute prut of totdat die lensies en patablokkies lekker sag is. Gebruik ‘n handmenger om die sop te verpulp. Roer die suurlemoensap en -skil by. Proe en voeg nog sout en peper by indien nodig. Geniet elke happie en voel hoe die krag deur jou are vloei.