Ek en Bliksem, my gemmerkat, het hierdie week rustig sonkolletjies gesoek agter ‘n bietjie warmte aan. Ek het sit en lees, baklei teen ‘n dreigende verkoue/griep, en Bliksem het in die lang gras die molle, eekhorinkies en tarentale bekruip of hier vanuit my leesstoel, wat hy vir homself ingepalm het, lê en bespied. Ek het maar gedwee een van die sitkamerstoele gaan haal.
Die naweek, en die week wat volg, is volgepak met bestellings – my sjokoladekoek vir ‘n teeparty, ‘n ligpienk koek met blomme, vlinders en feetjies vir ‘n kinderpartytjie en hope en hope Romany Creams, Chockits, gemmerkoekies, sjoksplinterkoekies en hawermout-en-sonneblomsaadkoekies.
Die week was rustig genoeg om asem te skep en van die lastige verkoue ontslae te raak. Ek het net ‘n klein bestellinkie vir Romany Creams gehad van ‘n oulike man wat voorspel het dat hy en sy meisie gaan rusie maak oor wie die laaste koekie gaan kry en toe sommer by voorbaat ‘n ekstra pakkie bestel het.
Die eerste twee dae het die sonnetjie heerlik teen laatoggend op my stoep neergebak, maar Woensdag het die wolke toegesak en boonop was hier heeldag ‘n elektrisiën om die kragtoevoer hier by my blyplek uit te sorteer.
Bliksem was nie gelukkig nie, om dit sagkens te stel. En dit was alles my skuld. Die donker wolke en die vreemde man wat hier in ons huisie aan die drade gewerk het. As jy gemmerkatte ken en weet hoe bedonnerd hulle kan wees, sal jy sekerlik verstaan dat ek nie ‘n baie goeie dag beleef het nie. Om dit sagkens te stel.
Maar ons het oorleef. Met gister se bietjie son en baie aandag, het ek nou weer ‘n sagte, warm lyfie wat al spinnend teen my aanvly. En ogies wat weer lig en goud is en nie donker en beneuk na my kant toe blits nie.
Wanneer die sonnetjie te yl en die windjie te skraal geword het, het ek nuwe resepte uitgedink vir my nuutgevonde towerbestanddeel, perdeblomblare (dandelion). Ek is gelukkig met die oop stuk omheinde veld voor my blyplek waar die perdeblome ongeskonde groei – geen honde wat been lig nie en geen spoor van onkruiddoders nie.
Een van die lekkerste en grootste treffers waarmee ek vorendag gekom het (behalwe nou verlede week se sop), is my perdeblombrood. As jy nie toegang tot perdeblomblare het nie, kan jy dit vervang met spinasieblare. En jy kan die resep glutenvry maak deur amandelmeel in die plek van die bruismeel te gebruik.
Karen se perdeblom-en-neute-brood
Lewer 1 standaard-grootte brood
1 koppie bruismeel
1½ teelepels bakpoeier
½ teelepel koeksoda
‘n knippie sout
2 koppies perdeblomblare, fyngekap
3 eetlepels basiliekruid, fyngekap
1 koppie pekanneute, grofweg gekap
½ koppie sonneblomsaad
¼ koppie olyfolie
3 eiers, liggies geklits
3 eetlepels melk
1 teelepel suurlemoensap
Gooi die bruismeel, bakpoeier, koeksoda, sout, perdeblomblare, basiliekruid, neute en sade saam in ‘n groot bak en meng goed. Klits die eiers, olie, melk en suurlemoensap in ‘n aparte mengbak. Vou die vloeistof in by die droë bestanddele en roer tot net-net gemeng. Skep die mengsel in ‘n gesmeerde broodpan. Bak in ‘n voorverhitte oond van 180ºC vir ongeveer 40 – 45 minute. Laat staan vir ‘n paar minute in die pannetjie voordat jy dit op ‘n draadrak uithaal om heeltemal af te koel voordat jy dit bedien. Dis heerlik saam met avokado of doodgewoon net botter.
WENK: Jy kan spinasieblare in die plek van die perdeblomblare gebruik en die bruismeel met amandelmeel vervang vir ‘n glutenvrye weergawe.