Een van die redes waarom ek so mal is oor kook, is die ongelooflike reise na verre eksotiese plekke wat ek sommerso by my stoof beleef. Hierdie slaai het die malse kleure van see, son en eilandgenot,
Elke oggend, met die maak van my eerste koppie koffie, voer ek ‘n klein ritueel uit. En nou praat ek nie van die maal van die koffiebone en die versigtige afmeet van die kosbare moer in die staalsiffie van my mokaketel nie . . . Nee, elke oggend steek ek plegtig sewe kerse aan met die gasvlam waarop daardie keteltjie staan en kook: Met die aansteek van elke kers, is dit tegelyk seënwens, gebed en dankie sê. Elke kers verteenwoordig ‘n deeltjie van my lewe en die laaste kers, die sewende een, is vir die mense om my tafel – vriende, familie, vreemdelinge . . . En wanneer ek daardie kersie aansteek, sien ek die tafel in my geestesoog. My mense. My tafel. En die kos – nie uithaler-spoggeregte nie, maar een skottel, soos hierdie roosterpangereg. Dis net hand uitsteek en skep na hartelus totdat net die sousies oorbly. En in daardie sous doop jy die laaste stukkie van my tuisgebakte brood
County Fair Hoender-en-groente–roosterpan
Genoeg vir 4
Vir die groentelaag
1 groot ui, geskil en in wîe gesny
2 x 400 g pakkies voorbereide groente van jou keuse (jy kan jou eie mengsel maak)
1 teelepel hoenderspeserye (sien WENK)
‘n handvol vars gekapte kruie – tiemie, oreganum of pietersielie (of ‘n mengsel van dié drie)
1 koppie hoenderaftreksel
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Vir die hoender
8 – 10 County Fair hoenderstukke
3 eetlepels olie
1 eetlepel hoenderspeserye
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Rangskik die uie en die voorbereide groete in ‘n oondroosterpan. Sprinkel die hoenderspeserye en die vars kruie bo-oor en giet die aftreksel oor. Geur met sout en peper en mengs alles liggies. Bedek met foelie en bak in ‘n voorverhitte oond van 200°C vir 20 minute. Terwyl die groente in die oond is, kan jy solank die hoender voorberei: Plaas die hoenderstukke in ‘n verseëlbare plastieksak of ‘n plastiekhouer wat dig met ‘n deksel seël. Voeg die olie en die hoenderspeserye by, seël die sak of houer en skud liggies sodat elke hoenderstuk oraloor met die speserye bedek is. Haal die groene uit die oond aan die einde van die baktyd, verwyder die foelie en rangskik die hoenderstukke bo-op. Geur met sout en peper na smaak. Plaas die pan net so onbedek terug in die oond en bak vir nog ‘n uur of totdat die hoender deurgaar is.
WENK: Maak jou eie hoenderspeserye (lewer ongeveer 100 ml – bêre die res in ‘n lugdigte houer): Meng 3 eetlepels soutvlokkies (soos bv Maldon), 1 eetlepel varsgemaalde swartpeper, ½ teelepel droë pietersielie, ½ teelepel uiepoeier, ¼ teelepel droë tiemie, ½ teelepel droë oreganum, 1 teelepel droë knoffelvlokkies, ¼ teelepel gerookte paprika, ¼ teelepel rooipeper, ¼ teelepel rissievlokkies en 1 eetlepel hoenderaftrekselpoeier. As jy ‘n mengsel met minder byt soek, kan jy die rooipeper en rissievlokkies weglaat.
Niks spel vir my só somer soos ‘n lekker wrap nie. So ‘n maaltyd-in-die-hand laat jou dink aan sambreelkos op sonnige strande of iets piekniekerigs onder koeltebome. Dis ook pure lekkerte op die tafel en lekker vinnig en maklik om te maak na ‘n lang en warm werksdag.
‘n Vroeë Kersgeskenk .. . Nog ongebind maar klaar gedruk. Die res, die voltooide simfonietjies, is op ‘n boot op pad hierheen van Maleisië af en middel-Januarie pryk hulle op die winkelrakke.
Vandag voel vir my soos ‘n propperse dankseggingsdag. Eintlik wou ek so ‘n bietjie bene in die lug gelê en die gevoel behoorlik laat insink het. Maar voor ek my kon kry, bring ek offerandes in die kombuis terwyl ek Callas afwissel met Netrebko en Villazón.
Ek glimlag altyd wanneer ek sien hoeveel mense probeer pa-staan vir hierdie resep. Maar die waarheid is – dis so oud soos die kookkuns van Europa en het waarskynlik die tafels laat kreun nog lank voor Onse Jan met sy drie armsalige skuitjies hier in die skadu van die berg kom anker gooi het.
Dit reën koejawels hier by my – wittes en pienkes. Elke oggend loop ek die tuin in en steier terug met ‘n mandjievol.
Ek het grootgeword met winkelkerriepoeier.
Dit was ‘n doodgewone dag in die lewe van klein Anthony di Stasio.