Vanoggend het die nostalgie my beetgepak en ek het verlang na die kos van kleintyd, lekkernye so eie aan ons dat jy dit nêrens anders in die wêreld sal kry nie. Die kombinasie van soet en sout is lekkerder as wat jy ooit kan droom.
Marmitetert
Genoeg vir 6
Vir die tert
5 eetlepels botter
⅔ koppie suiker
1 eier
1⅔ koppies koekmeelblom
2 teelepels bakpoeier
½ teelepel sout
1 koppie melk
Vir die bolaag
115 g botter
2 teelepels Marmite
½ koppie gerasperde cheddarkaas
Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die eier by en klits tot gemeng. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam en voeg die meeLmengsel afwisselend met die melk by die bottermengsel. Giet die mengsel in ‘n gesmeerde oondbak en bak vir ongeveer 25 – 30 minute in ‘n voorverhitte oond van 190°C. Smelt die botter en Marmite saam en giet oor die warm tert sodra dit uit die oond kom. Prik die tert eers met ‘n vurk voordat jy die bottermengsel oorgooi. Sprinkel die kaas oor en bedien onmiddellik.
WENK: Jy kan hierdie wonderlike tert as ligte maaltyd saam met ‘n slaai voorsit. Maar dis net so lekker as soutigheid by ‘n teepartytjie.