Turkse Genot
Lewer ongeveer 25 – 36 blokkies (afhangende van die grootte)
Vir die suikerstroop
4 koppies suiker
1½ koppies water
1 eetlepel suurlemoensapVir die mielieblompap
1 koppie mielieblom
1 teelepel kremetart
2 koppies waterVir die afronding
1 teelepel rooswater
‘n paar druppels rooi of pienk voedselkleursel (opsioneel)
1 koppie versiersuiker
1 koppie mielieblom
Maak eers die suikerstroop: Giet die suiker, water en suurlemoensap in ‘n kastrol. Ek gooi eers die suiker in en agterna die water en suurlemoensap. Jy moet die water versigtig bygooi sodat daar nie suikerkristalle teen die rand van die kastrol spat en die suiker begin kristalliseer wanneer die stroop kook nie. Kook die stroop totdat die temperatuur 115ºC bereik. Skakel die stoofplaat af, maar laat staan die kastrol.
Meng die mielieblom, kremetart en 2 koppies water in ‘n aparte kastrol en klits om die klonte te laat oplos. Hou aan klits terwyl die mengsel begin kook en ‘n stywe pap begin vorm. Haal die pot van die stoofplaat af.
Voeg die suikerstroop bietjie-vir-bietjie by die pap en roer goed na elke byvoeging. Sorg dat jy van die begin af net in een rigting – kloksgewys – roer. Plaas die kastrol terug op die stoof en stel die plaat op die laagste hitte. Laat die pot vir minstens ‘n uur lank prut terwyl jy baie gereeld roer, ook net in een rigting. (Dis wat die Turke sê en wie is ek om te stry?) Ek stel my stoofwekker en roer elke 10 minute. Die mengsel word so ‘n amber kleur.
Haal die pot van die stoof af en roer die rooswater en voedselkleursel by. Giet die mengsel in ‘n vierkantige pannetjie van ongeveer 20 x 20 cm wat liggies met oliesproei gespuit en met twee stroke bakpapier gevoer is. (Onthou om die bakpapier ook liggies te spuit!) Laat staan oornag.
Gebruik die punte van die bakpapier om die blok uit die pan te lig. Sif die versiersuiker en mielieblom saam en sprinkel op die werkoppervlak. Plaas die blok Turkse Genot daarop en sny in blokkies. Rol elke blokkie in die versiersuiker-mielieblommengsel. Bêre die blokkies in die versiersuiker-mielieblommengsel in ‘n houer wat effens toemaak maar nie lugdig is nie.
Moet dit onder geen omstandighede in die yskas bêre nie.