Beet-en-sjokolade-koek
Moenie beet onderskat nie – dis glad nie net ‘n betroubare en doodgewone bykos nie. Die kombinasie van beet en sjokolade maak van hierdie koek iets besonders.
Jy het nodig
250 g beet
200 g (2 blokke) donker sjokolade, in stukkies gebreek
4 eetlepels sterk, warm koffie
200 g botter
1 opgehoopte koppie koekmeelblom
’n opgehoopte teelepel bakpoeier
3 eetlepels kakao
5 eiers
1½ koppies strooisuiker
versiersuiker om te sprinkel
Só maak mens
Kook die beet, heel en ongeskil, in kookwater tot sag. Dreineer, laat heeltemal afkoel en skil. Verpulp die beet in ’n voedselverwerker of met ’n handmenger. Smelt die sjokolade in ’n dubbelkastrol of in ’n vuurvaste glasbak oor ’n kastrol pruttende water. Wanneer die sjokolade byna heeltemal gesmelt het, roer die koffie en botter by.
Roer liggies tot heeltemal gemeng. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en kakao saam. Skei die eiers. Plaas die witte in ’n groot mengbak. Klits die gele effens in ’n klein mengbakkie. Haal die sjokolade van die stoofplaat af en roer die eiergele vinnig by. Vou die beetpulp versigtig in die skokolade-eiergeelmengsel in. Klits die eierwitte styf en vou die suiker in.
Vou die eierwit-en-suikermengsel by die sjokolademengsel met ’n metaallepel in. Moenie te veel roer nie. Skep die mengsel in ’n 20 cm-losboom-koekpan wat met bakpapier gevoer is en plaas in ’n voorverhitte oond van 180⁰C. Verlaag onmiddellik die oondtemperatuur 160˚C en bak vir 40 minute.
Die kern van die koek moet nog effe klam wees. Laat dit in die koekpan afkoel tot heeltemal koud. Haal dit versigtig uit en besprinkel met versiersuiker.



