Brownies vir die roomys

‘n Mens vertaal maar swaar aan brownies en die naaste wat jy daaraan kan kom in Afrikaans is seker bruintjies. Maar dit lê maar swaar op die tong. Dié lekkerny is vinnig besig om kolwyntjies te onttroon as die nuwe gier onder die wispelturige mode-eters.

Saam met roomys as ‘n dekadente nagereg, ‘n bederfie saam met ‘n koppie tee of sommer net so – net omdat jy kan. Maar die groot geheim van ‘n goeie brownie is om ‘n goeie sjokolade en die beste kakaopoeier te gebruik.

Ek hou daarvan om met Lindt-sjokolade te bak – dit werk baie lekker. En as jy gelukkig is (soos ek), sorg jy dat jy die Lindt-kakaopoeier in die hande kry.

Die smaak van jou bruintjies sal afhang van die kwaliteit van die sjokolade en kakao wat jy gebruik.

Jy het nodig

185 g botter
185 g donker sjokolade, fyngekap
3 eiers
1¼ koppie strooisuiker
⅔ koppie koekmeelblom
½ koppie kakaopoeier
¾ koppie wit sjokolade, fyngekap
¾ koppie melksjokolade, fyngekap

Só maak mens

Plaas die botter en donker sjokolade in ’n kastrolletjie (Die Groot Gryse het een verjaardag vir my ’n dubbelkoker gegee en dit werk soos ’n bom!) oor lae hitte en roer tot net-net gesmelt. Laat afkoel. Klits die eier en suiker saam tot lig en romerig. Vou die sjokolade-en-bottermengsel by die eiermengsel. Sif die koekmeelblom en kakao oor die mengsel en vou in. Voeg die wit- en melksjokolades by, meng en goet die mengsel in ’n vierkantige pannetjie van ongeveer 23 cm, wat met bakpapier gevoer is, en bak vir 35 – 40 minute in ’n voorverhitte oond van 180˚C. Laat eers heeltemal afkoel voordat jy dit in blokkies sny.