Betroubaar soos beet

Verlede Saterdag was ’n baie spesiale markdag. Nie oor die verkope of ’n noemenswaardige wins nie, nee, daarvoor was die mark maar aan die stil kant. My kamermaat as eerstejaar op universiteit het besluit om my saam met haar mooi dogter by die mark te kom verras.

Ek het altyd gewonder hoe dit sou wees om haar weer te sien, of dit vreemd sou wees en of ons hoegenaamd iets sou hê om vir mekaar te sê. Maar toe sy voor my staan, was dit asof die 34 jaar wegval en ek oomblikke gelede haar gegroet het voor ek klas toe gaan.

Daardie soort vriendskappe is seldsaam en baie kosbaar. Dis die stil soort wat so ongemerk deel van jou lewe, van jou geskiedenis, van jou menswees word. Dis baie soos beet, so ongemerk deel van die bykosse op die tafel en dan, op ’n dag, word dit die kleurvolle bestanddeel van ’n ongelooflike kosskepping. Soos in hierdie hemelse beet-en-sjokoladekoek.