Broskoekies met laventel en roosmaryn

Hierdie heerlike broskoekies (shortbread), met die regte laventelblommetjies (of roosmaryntakkies) gegeur, is vreeslik Europees… vreeslik Frans!

Dis baie maklik om te bak, net, soos met alle kleinkoekies, bietjie tydrowend om die ou goedjies netjies op die bakplate te kry. Maar dis heerlik terapeuties.

Ek bak dit baie wanneer ek malvalekkers maak en nie weet wat om met die eiergele aan te vang nie (‘n mens kan mos nie elke keer mayonnaise of vla maak nie!) Dan vervang ek die eier bloot deur 2 eiergele en dit werk baie goed.

Jy kan dit nie as ‘n reël doen nie, maar in hierdie resep kan jy daarmee wegkom. Dis ook die ideale geskenk om vir iemand te gee – ek pak dit in’n mooi blikkie saam met ‘n paar vars laventelblommetjies!

Jy het nodig

½ koppie botter
½ koppie plus 1 eetlepel bruinsuiker
1 eier, geklits
1 eetlepel fyngekapte laventelblommetjies (of ’n paar teelepels fyngekapte vars roosmarynblaartjies – ek het albei probeer en dis altwee ewe lekker)
1½ koppies koekmeelblom
1 teelepel bakpoeier

Só maak mens

Room die botter en suiker saam tot lig en glad. Klits die eier by en roer die laventel of roosmaryn by. Sif die koekmeelblom en bakpoeier saam en roer by.

Rol in okkerneutgrootte balletjies, plaas op ’n bakplaat wat met foelie of bakpapier gevoer is, druk effens plat en gebruik die pronge van ’n vurk om patroontjies bo-op te druk.

Of rol die deeg soos ’n wors in kleefplastiek toe en plaas in die yskas of vrieskas totdat dit hard en ferm is en sny dan met ’n skerp mes in muntstukkies voordat jy dit op die gevoerde bakplaat plaas. (Ek het altwee metodes probeer en dit werk ewe goed.)

Bak in ’n voorafverhitte oond van 180˚C vir 12 – 15 minute of totdat dit ligbruin bo-op verkleur. Laat dit effe afkoel in die bakplaat voordat jy die koekies met ’n slaplemmes uitlig en op ’n draadrak uitpak om heeltemal af te koel.