Afskeid

My hart is ‘n bietjie seer en ek rou. Maar dis ‘n oop wond en skoon, nie ‘n etterige affêre wat sweer en kloppend dreig om in ‘n vulkaan van vuil oop te bars nie.

Aan die einde van die oujaar en die begin van die nuwe raak die Toorkombuis so effe stil en dis dan wanneer ek tot stilstand gedwing word om voorraad op te neem. Dis elke jaar se storie en ek gun myself die luukse om so ‘n bietjie oor te gee aan depressie en selfbejammering. Ek glo dis nodig om daardeur te werk om skoon te begin.

Die eerste twee weke van die nuwe jaar werk ek sagkens met myself. Ek hou my so ‘n bietjie eenkant,  doen nie veel nie, dink baie . . .

Die groot tragedie van verlede jaar was die dood van my Cleo-kat. Maar die ding wat my so ‘n bietjie onkant gevang het, was die afskeid neem van die laaste ouerhuis. Ek het glad nie verwag dat ek so sou voel nie, want in my kop het ek dinge lankal vir myself uitgeklaar.

My ma het in Oktober verlede jaar ‘n plekkie in ‘n aftree-oord gekoop en die huis verkoop, alles opgepak en ‘n einde gemaak aan ‘n  leeftyd van seevakansies en huis toe gaan.

Kort voor my pa se dood het ons strandhuis my pa en ma se permanente blyplek geword. My seevakansies het kleintyd net skuins oorkant die baai by De Bakke begin en ek onthou hoe hard my pa baklei het vir die behoud van die plek. Na die sloping van die houtstrandhuise en die skep van die siellose oord wat nou daar is, het ons in huurhuise al om die kus daar by Mosselbaai en George vakansie gehou.

dwars4

Toe ek veertien jaar oud was, het ons ons eerste Dwarswegvakansie gehad. Dis daardie einste jaar wat ek my eerste vakansieromanse beleef het. En my hart die eerste keer gebreek is.

Vir my was Dwarsweg my pa. Dit was die huis wat hy met soveel sorg en liefde ingerig het sodat almal saam daar kon vakansie hou. Dit was die alleen-oomblikke wat ek en hy gedeel het wanneer ons soggens vroeg gaan swem het, net ons twee in die water.

dwars1

Met daardie branders het jy nie gespeel nie. Dit het wild en woes op die strand uitgespoel en jou soms met pure minagting in die sand ingeboor met die uitspoegslag. My pa het altyd gelag en gesê dis waar jy van al jou pretensie gestroop word.

Ek het eenkeer nog so lekker middellyf in die water gestaan toe die grond skielik onder my wegraak en die stroom my vat. Minute later, wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het ek byna ‘n kilometer verder op die strand uitgespoel. Met middagtete het my pa se stem gebewe toe hy met die tafelgebed dankie sê.

IMG_20160115_0004_NEW

Saans, wanneer ons gesellig in die woonkamer saamgetrek het, het ek my verf en kwas uitgehaal en tong-in-die-kies met ‘n byna kinderlike aanslag tonele uit ons vakansies geverf. My pa het elkeen van hierdie met sorg teen die muur opgeplak. En toe hulle begin verbreek en verbou het om die huis meer permanent te maak, het hy van elkeen ‘n foto geneem om te sorg dat dit nie verlore gaan nie. Ná sy dood het ek nooit weer my verfkwasse uitgehaal nie.

dwars5

Dit was die see en die saamwees, ja, maar dan was daar ook die Duin . . .

Wanneer jy strandlangs op die wye oop strand na Die Eiland se kant toe stap, troon dié eerste groot duin soos ‘n volgroeide heuwel voor jou. My broer en sy maats het kleintyd met planke wat met kerswas gesmeer is daar afgeseil en later het hy vlerksweef daar geoefen.

Vir my was daardie duin die prentjie wat ek n my geestesoog gesien het wanneer iemand vir my sê ek moet my oë toemaak en dink aan ‘n plek waar ek wil wees. Met elke verbystapslag het ek Gigli of Pavarotti in my kop Che Gelida Manina hoor sing.

‘n Paar jaar gelede moes ek my verstandtande laat verwyder het. Ek het gekies om dit in die tandartstoel te laat doen en die enigste manier hoe ek oorleef het, was om my te verbeel ek stap daar  op die strand met die see aan die een kant en die duin aan die ander kant. En die hemelse musiek in my ore.

Ná my pa se dood was dit nooit weer dieselfde nie. Eintlik het ek toe al begin afskeid neem. Ons het een op ‘n slag vir my ma gaan kuier. Daar was ‘n nuwe man in haar lewe en dit het gevoel asof hy die laaste asem uit die huis gewurg het. Selfs nadat hy weg is, was die huis nooit weer dieselfde nie.

Daarom was dit vir my so ‘n skok toe ek besef hoeveel ek rou oor die ouerhuis wat nie meer bestaan nie.

Net voordat my ma uit die huis getrek het, ek het ek en my sussie en my broer vir ‘n naweek soontoe gegaan om alles te gaan help finaliseer. Dit was ‘n pelgrimstog en ek glo nie ons drie was al nader aan mekaar as juis daardie naweek nie.

Ons het langs die pad gestop vir ontbyt en met die terugkeer weer vir middagete. Ons het ure lank om die tafel saam met my ma gesit en ver teruggedink oor al die goeie tye saam. Die naweek waarna elkeen van ons so opgesien het, sal elkeen van ons nou onthou as die tyd toe ons herontdek het wat dit beteken om mekaar te hê.

Ek en my sussie het die Sondagggend saam gaan stap, al met die strand langs by die Duin verby. Ons het nie baie gepraat nie. En so in die stap sien ek die duin lyk nou anders – aan die bokant is daar huise gebou. Groot huise. Groot geld. En die duin sing nie meer met die stem van ‘n Gigli of ‘n Pavarotti nie. Nee, dis nou meer ‘n afgewaterde en uiters kommersiële Andrea Bocelli.

Agterna het ons geswem, net ek en my sussie in die branders wat skuimend om ons breek. Die lug was nog nooit so blou nie. Net die see se geraas in die stilte. Die son was nog sag en genadig op die eindelose strand.  En nie eens die val van die duin en die afskeid van soveel vakansies, soveel seeliefdes, kon afbreek doen aan daardie oomblik se saamwees nie.