Hier in my toorkombuis…

Saterdagoggende by die mark is my lekkerste geselstyd. Nadat ek my tafel mooi uitgepak het op my pienk strepiestafeldoek by The Market at The Palms in Woodstock, trek ek my voorskoot mooi reg sodat die mense die naam daarop, Toorkombuis, mooi kan lees. Soms het ek darem ook ’n swartbordjie op die tafel waarop ek Toorkombuis kan skryf, maar ek is gewoonlik laat en teen daardie tyd was daar al ’n ander handelaar wat die swartbord en staander vir sy tafel gegaps het.

karenDeel van die lekkerte van die mark is om met die mense wat kom koop te gesels oor die goedjies wat ek vir my tafel gebak het: die Romany Creams wat ek met Lindt-sjokolade maak; van hoe ek kort voor slapenstyd een aand besluit het niks keer my om ’n wit Romany te skep nie; oor my ouma se rosyntjiebroodresep wat ek nou in ’n bosbessie-en-sultanabroodjie omskep het.

En dan is daar die opwinding van die proe en bespreek van al die verskillende soorte geure malvalekkers in my glasflesse – van die doodgewone pienk-en-wittes met die vanieljegeur tot die koffie-en-haselneut en tussenin die roos-en-pimperneut, geroosterde klapper, liekeries, bloubessie, lemoen, gramaat, framboos en aarbei. Ander dae het ek ook die heuningbol-en-karamelgeur en soms die peppermint crisp-malvalekkers.
As ek eers aan die gang is, is daar nie keer aan my nie…

Maar keer op keer kom maak die gesprek ’n draai by my naam. Want by die mark weet min mense wat my van is – hulle ken my net as Karen Toorkombuis. En baie van die mense, selfs andertaliges, het al oor die naam gewonder. Gewoonlik gee ek hulle die korter weergawe, dat ek glo aan die betowering van die kombuis, die alchemie van die kospotte en die mengbakke.

My Toorkombuis is uit nood gebore…

Nege jaar gelede was die man in my lewe (van destyds) in ’n semi-koma in die hospitaal, my gemmerkat was oud en aan die doodgaan en by die werk het ek in ’n doodloopstraat beland. Al wat my aan die gang gehou het, was my ontvlugting tussen die kospotte en my liefde vir skryf.

Toe lees ek Julie & Julia, die wonderlike debuutroman van Julie Powell waarvan die fliek met Meryl Streep in die hoofrol eers heelwat later gemaak is. En in daardie oomblik het ek besef ’n kosblog is die oplossing – hier kan ek my liefde vir kook en skryf kombineer. Toe ek begin naam soek, het ek nie ’n oomblik getwyfel nie. Ek het jare en jare gelede al geswig voor die betowering.boek

Ek en my tweede man was pasgetroud toe ons een Saterdagoggend op die Parade gaan rondsnuffel. Destyds het hulle nog die interessanste tweedehandse ware op Woensdae en Saterdagoggende daar verkoop. By een van die tafels met ou boeke het ek toe so ’n dik Amerikaanse bybel van ’n kookboek raakgeloop. The New Family Cookbook, wat in 1950 deur die Culinary Arts Institute van Chicago uitgegee is, is vandag nog een van my gunstelinge.

In die boek het ek ’n resep raakgelees wat my laat regop sit het. Die enigste bestanddele is tamaties, ’n lepeltjie gekapte uie, sout en peper, ’n bietjie suiker, ’n knippie rooipeper en bestanddele vir jou basiese witsous, wat die basis van hierdie tamatiesop vorm.

Ek was daardie tyd al behep met kruie en speserye en kon nie glo dat hierdie sop enigsins na iets kon smaak nie. Ek maak dit toe uit pure nuuskierig. Dis net daar wat ek geleer het van die betowering, van die suiwer alchemie van die kombuis – van hoe ’n handjievol niksbeduidende bestanddele saamgevoeg word om ’n smaaksensasie op te tower. En dit, is waar die naam Toorkombuis vandaan kom.

My vriende het my gespot. My kombuis was destyds nie veel groter as ’n posseël nie en hulle het gesê die naam is gepas omdat dit net toorkuns is wat kan maak dat ek die geregte wat ek kook in daardie klein ou plekkie kan skep.

Maar die geterg het plek gemaak vir begrip en ek het kombuishekse van oral present gekry, koekvormies van vlieënde hekse en allerhande wonderlike goetertjies ter viering van my Toorkombuis.

Dis daar waar ek weer my menswees ontdek, my selfrespek herwin het. Ek het my hartseer oor my vriend se dood, en daarna dié van my gemmerkat, weggekook oor welriekende potte. Daar het ek ook gejubel in gerfies kruie en in ’n oordaad van speserye die lewe en die nuwe liefde gevier. Dis ook in hierdie kombuis waar ek my bittersjokoladekat, die kleine diva van ’n Cleo, weer geleer het om mense te vertrou en liefde te leer ken.

heksehoedOor die jare het my Toorkombuis gesorg dat ek nou voltyds aan die kook is, betaal word om oor kos te skryf en op marktafels my lekkernye kan bekend stel. Elke dag sprei my kombuis ’n towertapyt oop en lei my om nog baie ander moontlikhede te ontgin.

Een van my mede-handelaars by die mark het my nou die dag verras met ’n kolwyntjie versier met ’n heksehoed wat sy spesiaal vir Toorkombuis gemaak het. So leef die betowering voort in my hart, in my kombuis en dra ek dit uit na die mense met wie ek in aanraking kom.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+