‘n Kersfeessprokie

Sy was een van my eerste kombuishekse. Ek het haar by my dierbare kluisenaarsvriend gekry.
Dit was kort nadat ek die eerste een geword het wat in die vyftiende bestaansjaar van sy ontwerperskombuis daar gekook het. Hy kook nie – hou net van mooi dinge. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander keer.

En toe sy eers in my kombuis haar staan gekry het, het die een heks na die ander gevolg. Al my vriende (en familie) het begin hekse aandra – kleintjies, grotes, van hier en van oorsee. Ek het self ook ‘n paar aangekoop, drie wat skelle hekselagte laat hoor wanneer iets op die vloer val of, selfs beter nog, aan stukke breek.  Ek het nou sewentien wat oor my skouer loer wanneer ek voor die kospotte staan.

Ek het opgelees oor kombuishekse. Hulle is die goeies. En ek het dadelik aanklank gevind by die wonderlike lewenslessie wat deel is van die Europese kombuishekskultuur. Dit kom kortlik daarop neer dat jy alles met liefde in jou hart moet doen,  selfs skottelgoed was en vloere mop.

Maar hier kort voor Kersfees vind ek toe mos uit daardie eerste heks is nog meer spesiaal. Ek het op bestelling gebak vir ‘n wonderlike Italiaanse vrou wat ek by my marktafel ontmoet het. Toe sy haar soetgoed kom afhaal, val haar oog op dié heks. “A, Le Befana!”, roep sy uit en vertel my hoe deel van die Italiaanse Kerskultuur hierdie ou vroutjie met haar mandjie en besem is.

Dit was net genoeg om my goed nuuskierig te maak en ek gaan lees toe op oor Le Befana.

Daar is verskillende weergawes van die Kerslegende. Le Befana was ‘n huisvrou van formaat, heeldag aan die werk – wanneer sy nie voor die stoof aan die kook of bak was nie, was sy stoflap of besem in die hand, hard besig om haar ou huisie blinkskoon te maak. Die mense van die ou dorpie waar sy gewoon het, het baiekeer gewonder of dit nie maar ‘n manier was om die dood van haar eie kind te verwerk nie.

En toe op ‘n dag, terwyl sy so hard aan die werk is, is daar ‘n klop aan die deur. Sy verwonder haar aan die ryk, geborduurde klede van die drie manne, wyse manne uit die Ooste. Hulle vertel haar toe hulle soek na die kind wat in die stal gebore sou word. Hulle het die ster gevolg tot hier en weet dat dit iewers in die omtrek moet wees. Sy kon hulle nie help nie, maar hulle nooi haar toe in elk geval saam om die wonder saam met hulle te beleef.

“Jammer, menere!  Soos julle kan sien, is ek hard besig om te werk. Ek kan nie alles nou net so laat staan en saam met julle gaan nie.”

‘n Rukkie later is daar weer ‘n klop aan die deur. Hierdie keer is dit manne in werksklere, skaapwagters. Sy kan hulle nie help nie, maar weer word sy saamgenooi en weer wys sy die uitnodiging van die hand.

Daardie aand, toe Le Befana, die kantgordyntjie van haar blinkskoon vensters wegtrek, sien sy die ster. Met ‘n swaar hart besef sy sy het ‘n groot fout gemaak. Sy pak toe dadelik ‘n mandjie en gaan soek self na die kind. Toe sy eindelik by die stal kom, was dit leeg.  Sedertdien soek sy steeds na die kind en elke jaar, twaalf dae na Kersfees, deel sy koekies en lekkers vir kinders uit. Nog steeds in die hoop dat een van daardie kinders dalk die Christuskind is en dat sy die wonder kan beleef van daardie groot gebeurtenis wat sy misgeloop het.

En terwyl ek so lees aan die verskillende weergawes van hierdie sonderlinge Kersverhaal, tref dit my dat Le Befana s’n eintlik my lewensverhaal is en waarskynlik verklaar waarom ek op my gelukkigste is wanneer ek kos en soetgoed kan uitdeel.

‘n Vrou, wat gereeld by my by die mark koop, het nou die dag vir my gesê: “Karen, jy sal nooit ryk word nie. Jy gee al jou wins weg.”

“Maar ek voel so oneindig ryk,” het ek haar onmiddellik geantwoord.

Die waarheid lê veel dieper as dít, besef ek nou met Le Befana se storie. My drie mislukte huwelike het nooit kinders gebaar nie. En hierdie Le Befana soek steeds na daardie kind.