Sjokolade-pekantert

Op die oog af lyk die ou tertjie so doodgewoon – jy kyk sommer bo-oor hom. Veral as hy so tussen room- en meringueterte met oordadige byna Carmen Miranda-agtige vrugte-bolae staan.

Maar, soos buurvrou Claudia se Sean sê, dis die sexyste dingetjie wat nog uit Woodstock gekom het. En dit sal jy eers weet as jy geproe het. Jy byt deur ’n dun lagie broskors in ’n sjokolade-en-neuthemel in.

Jy het nodig

Vir die kors

1½ koppies koekmeelblom
n knippie sout
6 eetlepels botter
60- 80 ml yswater

Vir die vulsel

125 g botter
100g (1 blok) donker sjokolade
1 eetlepel vanielje-ekstrak
1 koppie strooisuiker
2 eiers
4 eetlepels koekmeelblom
1½ koppie gekapte pekanneute

Só maak mens

Plaas die koekmeelblom en sout vir die kors in n groterige mengbak en vryf die botter liggies met jou vingers in die mengsel totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Voeg die yswater bietjie-vir-bietjie by en meng liggies totdat jy n maklik hanteerbare deeg het.

Rol dit uit op n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en voer n losboom 24 cm-tertpan (of tertbord) en plaas vir 15 minute in die vrieskas of 30 minute in die yskas. Prik die bodem met n vurk en plaas bakpapier bo-op.

Gooi keramiekbone of gewone droëbone bo-op en bak die tertkors 10 minute lank in n voorverhitte oond van 200˚C. Verwyder die bone en bakpapier en bak nog 5 minutes. Hou die kors eenkant terwyl jy die vulsel maak. Verlaag die oondtemperatuur tot 180˚C.

Smelt die botter en sjokolade saam in n dubbelkastrol of in n hittebestande glasbak oor n kastrol kookwater. Klits die suiker, eiers en vanielje by die sjokolademengsel en voeg die koekmeelblom by. Roer die neute by en skep die mengsel in die tertkors. Bak 30 minute lank.

Jy kan dit net so eet of saam met room of roomys bedien. Ek bak dit baiekeer in kleiner tertpannetjies (soos op die foto) vir individuele porsies.