Suurlemoen Meringue

As jy al klaar jou lippe aflek vir die kondensmelkweergawe van ‘n suurlemoenmeringue, kan jy maar verbyblaai. Hierdie resep is nie vir jou nie. Die lekkerte van hierdie een is die skielike sitrus-skok wanneer jy deur die soet meringue byt.

Jy kan die gewone grootte (20 cm) maak, maar hierdie kleiner tertjies is so elegant en oulik vir die teetafel, selfs vir ‘n heerlik nagereg. Moenie kortpad kies nie – volg die metode vir die tertdoppies noukeurig en jy sal nie sukkel met tertdoppies wat windskeef trek of halfgaar onder die meringue skuil nie.

Nog iets: Ek is nie seker of daar waarheid in skuil nie – miskien is ek bygelowig. Maar ek probeer vermy om enige meringue-gebak op ‘n renerige dag, wanneer daar baie vog in die lug is, te maak.

Hierdie resep is so ’n bietjie anders as die een waaraan ek gewoond is en die vulsel gee jou kiewe nogal so ’n skokkie met die suur van etlike suurlemoene. Dis ’n blokkie ys hier by jou kraag af op ’n snikhete dag.

Jy het nodig

Vir die kors

2¾ koppie koekmeelblom
⅓ koppie versiersuiker
Knippie sout
175 g botter, verkil en in blokkies gesny
1 eiergeel
3 -4 eetlepels yswater

Vir die vulsel

400 ml suurlemoensap
Gerasperde skil van 1 lemoen
½ koppie mielieblom (Maizena)
1 koppie water
4 eiergele
1⅓ koppie strooisuiker

Vir die meringue

4 eierwitte
1 opgehoopte koppie strooisuiker

Só maak mens

Sif die koekmeelblom, versiersuiker en knippie sout saam. Vryf die botter in die droë mengsel totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Voeg die eiergeel by en dan die yswater lepel vir lepel totdat jy ’n hanteerbare deeg kan vorm. Draai dit toe in kleefplastiek en laat 15 minute in die yskas rus.

Verdeel die deeg in 10 ewegroot balletjies en rool balletjie vir balletjie uit om 10 losboompannetjies van 7,5 cm te voer. Die deeg moet omtrent so dik soos ’n muntstuk se kantjie wees. Sit ’n stukkie bakpapier bo-op elkeen en bedek met gewone of keramiekboontjies.

Verkil weer vir 15 minute voordat jy dit in ’n voorverhitte oond van 200˚C vir 10 – 12 minute bak. Verwyder die bakpapier met die boontjies en bak ’n verdere 4 – 5 minute so oop en onbedek. Hou eenkant terwyl jy die vulsel maak.

Giet die suurlemoensap in ’n kastrol en voeg die lemoenskil by. Klits die mielieblom by en voeg die water by. Bring tot kookpunt terwyl jy aanhoudend roer totdat die mengsel begin dik word. Haal van die hitte af en klits die suiker en eiergele by. Sit dit weer terug op die stoofplaat vir ’n minuut of twee. Haal van die hitte af en giet die mengsel in die tertdoppies.

Verlaag die oondtemperatuur tot 150˚C. Klits die eierwitte totdat dit stywe puntjies maak en klits dan die strooisuiker eetlepel vir eetlepel by totdat die mengsel dik en blink is. Skep die meringue oor die vulsel in die tertdoppies en maak swierige krulle met die agterkant van ’n lepel.

Bak in die oond vir 15 – 20 minute. Bedien warm of koud.