Kattemaai

In die vroeë oggendure het dit hier by my soos Soutrivierstasie met spitstyd gelyk. Waarskynlik gaan dit elke nanag so wanneer ek die laaste lekker slaap inkry. Maar gisternag, soos elke drie nagte vóór volmaan, was ek rusteloos en wakker.  Toe maak ek maar vir my ‘n koppie rooibostee en wag hier op die rusbank tot ek vaak en rustig genoeg is om te gaan slaap.

Die eerste enetjie was so mooi bruin bolletjie wol. Ek het deur my wimpers geloer toe ek die beweging langs my op die mat gewaar.  Toe sien ek die gevreetjie en die ogies wat half onseker na my kant toe loer. Maar die rol op die mat waar die katkrui gestrooi is, was te lekker om eens bang te wees ek raas en jaag weg. Soveel van lekkerkry het ek lanklaas gesien. Eers die ruggie, toe die pensie . . . en die ekstase op daardie gesiggie!

Toe weet ek ook sommer Sagysie het die waarheid gepraat toe hy my die oggend laat verstaan het dis nie hy wat die sakkie met die gedroogde katkrui beetgekry en oor die mat gestrooi het nie. Ek het dit met die inkomslag gesien en lekker gelag, Sagrysie geterg oor sy “verslawing”. Toe spring hy so half verontwaardig bo-op die krat wat nog so onuitgepak na die mark bly staan het en hy kyk my met daardie onskuldig blou oë aan. Dit was nie hy nie, het sy hele lyfie gesê.  En hier in die nanag was ek bly ek het hom toe al geglo.

Ewe skielik het die bruin bolletjie pels hier langs my op die mat stil geword en met groot oë kombuis se kant toe gekyk. Dit sal nie Sagrysie wees vir wie hy so skrik nie – daarvoor is my blouoogseunskind te liefdevol en saggeaard. Toe gaan kyk ek maar en sien toe die yslike grommende gryskat. Ek het hom dadelik herken. Hy is immers ‘n gereelde besoeker.

Bruin Lyfie het eerste deur die badkamervenster geduik en Gryskat agterna. Daar was darem nie ‘n bakleiery nie – ek het staan ek luister om te hoor of ek moet help. Dis duidelik hulle ken mekaar en ou speelmaats. Dis maar net Ouboet wat stem dik gemaak en die kleintjie kom roep het om te speel.

Toe ek weer so by die badkamer verbyloop, sien ek net die swart sekelstert en ‘n paar groot groen oë wat my dophou. “Hallo! Ek het jou lanklaas gesien!”groet ek toe. Dis die enetjie wat saans wanneer ek en Sagrysie die rusbank deel op die mat kom lê en ons aankyk asof hy wil sê: “Hoessit met julle?” Dan lig Sagrysie maar sy moeë lyfie om saam met die mooie pikswart kat met die smaraggroen oë die nag in te gaan.

Daar is ook so ‘n mollige bontkat wat gereeld kom inloer. Nou die aand het ek en Sagrysie langs mekaar in die badkamerdeur gestaan en kyk hoe wikkel Bontkat sy boude om gereed te maak om deur die venster te spring. Ons albei het gesien dié ou het nie genoeg van ‘n aanloop om daardie lyf deur die venster te kry nie. Toe tel ek hom maar op en dra hom na die agterste badkamer waar die venster laer sit en Bontkat met gemak kon uitgaan.

Baiekeer, wanneer ek in die nag opstaan, loop ek ‘n kattekind in die gang raak. Hulle is nogal vreeslik beleefd, staan so effe opsy sodat ek kan verbykom. En dit laat my lag en lag en lag. Want ek dink dan weer aan my pa se woorde toe die wildekatte uit die bos voor my venster kom roep het: “Sussie, laat ons nou maar eerlik wees – jy is ‘n heks.”

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+