Markdag by The Palms

Vrydag is ‘n deurmekaar dag hier in die Toorkombuis. Dis wanneer die groot opbou na markdag begin.

Dis harde werk, ja, maar heerlik opwindend – van die oomblik wat ek en Maswazi die ekstra tafels opslaan. Dis vir die neersit van die bakplate met kleinkoekies wat wag om gebak te word. Altwee oonde is volstoom aan die gang en die mengers loop. En heeldag ruik jy net gemmer, kaneel, vanielje en sjokolade op die briesie by my voordeur uit en straat af

masmark

Dit laat my baie dink aan die wonderlike beskrywings wat ek kleintyd gelees het van slagdag op die plaas in Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas. Net minder bloederig.

Saterdagoggende gaan my wekker presies om 3.03 af. Dis towertyd. Ek het altyd eers 3.33 opgestaan, maar daardie ekstra halfuur baktyd maak nogal ‘n groot verskil.toorkombuis-marshmallows

Dan begin ek die malvalekkermengsels aanmaak. Dis ‘n werk wat al jou konsentrasie verg. Eers die suikerstroop aan die kook kry, die gelatien aanmaak, eiers skei om eierwitte te klits en die gietbakke voorberei. Dan kom die lekker deel – om die geure en kleure te meng. Ek het al gedink ek sal moeg word vir die hele storie, maar elke keer wanneer ek die geurwolkies meng om in die bakke te gooi, maak dit my sielsgelukkig.

suurlemoen-roosmaryn

 

Wanneer die bakke malvalekkermengsel staan en stol, kan ek met my volgende bakwerk begin. Ek moet my tyd fyn beplan sodat die Marokkaanse suurlemoen-en-roosmaryn-stroopkoeke in ‘n koue oond kan gaan en die oond betyds gereed is vir die volgende baksel. In die ander oond bak ek solank die outydse klapper makaroens, helfte met amandelhoedjies en die ander helfte kaalkop om later in sjokolade gedoop te word. En die dubbelkoker staan reeds reg vir die smelt van die sjokolade.

 

Ek hou die horlosie dop sodat ek presies kwart voor sewe met die nougat se suiker-en-heuningstroop kan begin, die neute rooster en die meringuemengsel aanmaak. Wanneer die wyser verby sewe glip, meld Maswazi aan om Romany Creams in die sakkies te seël en die malvalekkers te sny.

nougat2

En wanneer Sandy Munroe om kwart voor agt met sy tuinrubriek op FMR begin, moet die piesangbroodjies oond toe – anders is dit te laat. Skuins na agt meld Ivan die Taximan aan. Hy kyk nie links of regs nie maar loop reguit badkamer toe om sy hande te was om ook in te spring om te help.

piesangbrood

Toe my ma hier gekuier het, het sy ‘n stukkie geskryf – haar indrukke van een van hierdie dol markoggende:

“Genade!!! Dis die 13de – gelukkig Saterdag en nie Vrydag nie. Die dag help niks, wan dis MARKDAG en hierdie bejaarde moeder van ‘n rustige kusdorpie in die Suid-Kaap ly aan bomskok in die die ergste graad! Die Taximan het so ‘n ruk gelede hier opgedaag om die kratte te help afdra – ek sit bewend in my kamer en wonder wat nou! Dit word so snaaks stillerig in die kombuis en ek sluip gang af om seker te maak almal is lewend. Grote Griet! Taximan help Maswazi om wit Romany Creams te smeer asof dit sy beroep is! Liewers terug kamer toe waar ek veilig is, want Karen fladder met baksels warm koekies uit die oond in ‘n gehawende kaftan van die jare toet – ek dink dit was nog myne. Wanneer sou sy aantrek en hoe lank nog? Tien minute later vertrek hulle . . .”

(Dis tot waar my ma met die storie gekom het. Sy het nog begin vertel hoe dit reeds Vrydag begin het, maar midde-in belangstelling in die skrywe verloor. Maar hierdie stukkie in haar eie handskif bly steeds een van my kosbaarste besittings.)

Ivan en Maswazi ken al mekaar se ritme met die pakslag. En die een is daar om die ander te herinner: Geldblikkie! Tafeldoeke! Mes! Jammerlappie! Wanneer Ivan die dag nie kan kom nie en ‘n minder ervare taximan in sy plek kom, is Maswazi heeltemal deurmekaar en dis dan wat van die belangrikste goed vergete agterbly. Terwyl hulle die taxi laai, glip ek gou weg om te gaan stort en die oondstoom en suikerstroop uit my hare te was.

Ek wonder baiekeer wat die bure dink wanneer die hele optog eindelik by die oprit wegtrek en mark toe ry. Maswazi sit voor by Ivan met ‘n koekhouer op sy skoot en ek sit agter toegepak tussen die blikke en kratte.

Wannneer ons daar by The Palms stilhou en ek steierend met die mandjie oondwarm piesangbrodjies by die deur instorm, moeg en gedaan wees na die ure van voorbereiding, vergeet ek van alles.

My siel word disseldons wat dansend op die briesie liggies sweef tot daar hoog by die dakvensters met sy uitsig op die lieflike berg. Alles word lig. Alles jubel in my. Dis markdag!

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+