Oor Sondagblou en dankbaarheid

My Sondae was vir jare lank gekleur in skakerings van blou wat gewissel het van ‘n hemelse kleur op ‘n goeie dag tot ‘n donkerpers, byna swart, wanneer die Sondagsomberheid my nou behoorlik beet het. 

Maar sedert ek byna vyf jaar gelede my gebak begin uitpak het op my tafel by die mark by The Palms, lyk my Sondae heeltemal anders. Ek sweef nog daar iewers in hemelsblou ná die wonderlike uitreik na mense met eetgoed uit my Toorkombuis.

Elke Saterdag skryf sy eie storie met nuwe mense wat proe-proe hul harte vir my oopmaak. En Sondae baai ek in die nagloed soos ‘n klipdassie in die son. So ‘n feestelike hart vra dan vir ‘n baie spesiale ontbyt en dis dan wanneer ek my dankbaarheidsbroodjie bak.

Hierdie broodjie is op sy lekkerste warm uit die oond en as daar iets oorbly, moet jy dit ‘n bietjie warm maak voordat jy daarvan eet. Dankbaarheid kom uit ‘n warm hart. Boonop smaak die koue brood heel anders – en glad nie so lekker nie.

Dankbaarheidsbroodjie, oftewel aartappel-en-roosmarynbrood

Genoeg vir 6 – 8

2 eetlepels olie
2 knoffeltoontjies, in dun skyfies gesny
3 koppies bruismeel
¼ teelepel sout
1 teelepel bakpoeier
4 eetlepels koue botter, in blokkies gesny
⅝ koppie volroom jogurt
4 eetlepels melk
2 groterige aartappels, geskil, in skywe gesny en net-net gaar gekook
1 eetlepel vars gekapte roosmaryn
¾ koppie gerasperde cheddarkaas
½ koppie Cheddarkaas in blokkies gesny

Verhit die olie in ‘n pan en braai die skyfies knoffels daarin oor baie lae hitte vir ongeveer 10 minute totdat dit sag is maar nie verkleur nie. Laat staan eenkant. Plaas die bruismeel, sout en bakpoeier saam in ‘n voedselverwerker en blits met die botter totdat die botter nie meer sigbaar is nie. Giet die mengsel in ‘n bak en maak ‘n holte in die middel. Verhit die jogurt en ,melk in ‘n kastrol oor lae hitte tot net-net warm. Giet in die meelholte en gebruik ‘n slaplemmes om dit in die meelmengsel te werk en ‘n sagte hanteerbare deeg te vorm. Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en vorm dit liggies met jou hande in ‘n groot reghoek. Sprinkel die aartappels, roosmaryn, knoffelskyfies en van die olie oor en ‘n driekwart van die cheddarkaas, blokkies en gerasper gemeng, bo-oor. Vou dit toe en knie liggies om te meng. Vorm ‘n ronde, platterige brood. Plaas dit op ‘n bakplaat wat met bakpapier gevoer is.maak snytjies met ‘n skerp mes bo-op, sprinkel die res van die kaas en die res van die olie bo-oor. Versier met ‘n paar roosmarynblare indien verkies. Bak 25 minute lank in ‘n voorverhitte oond 220⁰C. Eet die brood terwyl dit nog warm is.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+