Toorkombuis

Proe die betowering
  • Tuis
  • Blog
  • Resepte
  • English
  • winkelrak
  • Karen Hart
  • Kontak
    • Nougat

      Die geheim van die allerlekkerste nougat lê in die heuning en neute wat jy gebruik. Ek gebruik die Siciliaanse metode van nougat maak, effens taaierig. Hulle glo ook jy gebruik net amandels. Ek gebruik dit sommer met skilletjie en al, maar as jy dit wil pel, moet jy net onthou om die neute agterna goed uit te droog. Nougat háát water of klammigheid. Die heuning wat ek gebruik is die rou heuning van vriendin Karen Otto se kleinhoewe, Rietfontein, naby Darling. Sy bemark dit onder die naam Darling Honey. Hulle maak ook die heerlikste heuninglikeurs en -jenewer.

      Nougat

      Lewer ongeveer 6 – 7 stafies of 18 – 21 stukkies nougat (afhangende van die grootte)

      Vir die suikerstroop
      1⅔ koppies suiker
      ¼ koppie heuning
      1¾ koppies water

      Vir die heuningstroop
      ½ koppie heuning

      Vir die samestelling
      2 eierwitte
      1 eetlepel suiker
      1½ koppies heel amandels, ongepel, gerooster en nog warm (sien wenk)
      2 velletjies ryspapier

      Berei ‘n reghoekige losboompan van ongeveer 18 x 28 cm voor deur met ‘n oliesproei te spuit en die bodem met ‘n vel ryspapier te voer. Hou die tweede vel eenkant.

      Maak eers die suikerstroop: Plaas die suiker, heuning en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Kook totdat die stroop ‘n temperatuur van 115°C bereik het. Skakel dan die stoofplaat met die heuningstroop aan. Kook die suikerstroop verder totdat dit ‘n temperatuur van 152°C bereik het en die heuningstroop 129°C.

      Terwyl jy vir die strope wag, klits solank die eierwitte styf en klits die suiker by. Ruil die klitser om met ‘n spaan en voeg die heuningstroop geleidelik by terwyl jy die heeltyd klits. Volg dan met die suikerstroop terwyl jy die heeltyd klits. Wanneer die strope bygevoeg is, klits vir nog ‘n verdere 4 minute. Roer die warm amandels (sien wenk) by en skep onmiddelik in die voorbereide pan. Versprei mooi egali en maak die bokant mooi gelyk. Die mengsel is baie warm. Ek spuit gewoonlik ‘n aartappeldrukker met oliesproei en druk die mengsel liggies in plek. Plaas die ander vel ryspapier bo-op en stryk liggies glad. Laat staan vir ongeveer ‘n driekwartuur totdat die mengsel afgekoel en gestol het.

      Haal die nougat uit die pan en plaas op’n solied werkoppervlak. Gebruik ‘n geriffelde broodmes en ‘n vleishamertjie. Meet hoe groot jy jou stafies wil hê, plaas die mes in posisie en tik met die vleishamer op die mes. Só sny die nougat die maklikste.

      WENK: Plaas jou neute op ‘n bakplaat en plaas in ‘n voorverhitte oond van 200°C sodra jy die stoofplaat met die suikerstroop aanskakel. Hou die oond vir 3 minute aan en skakel dan af. Hou die plaat met neute in die oond sodat dit kan warm bly. Wanneer jy koue neute by die nougatmengsel gooi, stol dit te vinnig en jy gaan sukkel om dit gelyk in die pannetjie te kry.

      Lees verder →

    • Turkish Delight

      I love Turkish Delight. By that, I mean the real thing, not those jelly-like galoops. With real Turkish Delight, you cannot use the easy way out and pop in some gelatine. No, my sweet,  if you want to make it the way the Turks do, you need a lot of patience and strong arms. You have to stir and stir and stir . . .

      Turkish Delight

      Makes about 25 – 36 blocks (depending on the size you cut them)

      For the sugar syrup
      4 cups sugar
      1½ cups water
      1 tablespoon lemon juice

      For the cornflour paste
      1 cup cornflour
      1 teaspoon cream of tartar
      2 cups water

      For the final touches
      1 teaspoon rosewater
      ‘n few drops of red or pink food colouring (optional)
      1 cup icing sugar
      1 cup cornflour

      Start with the sugar syrup: Put the sugar, water and lemon juice in a saucepan. I put in the sugar first, followed by the water and lemon juice. You have to pour in the liquid very carefully so that no sugar crystals form on the side of the saucepan. If you see some sugar crystals, use a brush with some hot water to brush it from the side. Bring the syrup to a boil until mixture reaches a temperature of 115ºC. Switch off the plate but leave the saucepan on it.

      Mix the cornflour, cream of tartar and 2 cups of water in a separate saucepan. Use a whisk to break up any lumps. Continue whisking while you bring the cornflour to a boil. Once it becomes a gluey paste, remove the pot from the heat.

      Add a small amount of the sugar syrup to the gluey paste and use a wooden spoon to incorporate. Always stir in one direction, clockwise. (Don’t ask me why – I don’t argue with the Turks.) Continue to add the syrup bit by bit, stirring between each addition. Put the pot back on the stove plate and bring the mixture to a boil. Turn the heat down to the lowest setting and allow to simmer very gently for about an hour. Stir frequently. I set my stove alarm clock for every 7 – 10 minutes and stir. The mixture should be a golden amber colour.

      Take it from the heat and add the rosewater and food colouring. Pour the mixture into a square baking tin of 20 x 20 cm, lightly sprayed with oil spray and lined with two strips of baking paper, also treated with oil spray. Leave overnight or for several hours to set completely.

      Sift the icing sugar and cornflour together. Dust the Turkish Delight with this mixture and turn out onto a working surface dusted liberally with the same mixture. Remove the baking paper. Cut the slab into blocks, using a lightly oiled knife and dust each block with the icing sugar and cornflour mixture. Put the blocks in a container with the rest of the icing sugar and cornflour mixture.

      Please note: The container should NOT be airtight. DO NOT STORE IN THE FRIDGE!

       

       

       

      Lees verder →

    • Turkse Genot

      Ek het voordag al begin om Turkse Genot te maak. Op die regte, egte tradisionele manier. Dit beteken geen gelatien en baie roer. En so met die een lam armpie (van die baie roer!) bly hierdie simpel refrein deur my kop maal:
      “Solank as die lepel in die genotpot staan,
      roer, sussie, roer.”
      Die roerdery is lankal verby, maar die wysie maal steeds deur my kop.

      Turkse Genot

      Lewer ongeveer 25 – 36 blokkies (afhangende van die grootte)

      Vir die suikerstroop
      4 koppies suiker
      1½ koppies water
      1 eetlepel suurlemoensap

      Vir die mielieblompap
      1 koppie mielieblom
      1 teelepel kremetart
      2 koppies water

      Vir die afronding
      1 teelepel rooswater
      ‘n paar druppels rooi of pienk voedselkleursel (opsioneel)
      1 koppie versiersuiker
      1 koppie mielieblom

      Maak eers die suikerstroop: Giet die suiker, water en suurlemoensap in ‘n kastrol. Ek gooi eers die suiker in en agterna die water en suurlemoensap. Jy moet die water versigtig bygooi sodat daar nie suikerkristalle teen die rand van die kastrol spat en die suiker begin kristalliseer wanneer die stroop kook nie. Kook die stroop totdat die temperatuur 115ºC bereik. Skakel die stoofplaat af, maar laat staan die kastrol.

      Meng die mielieblom, kremetart en 2 koppies water in ‘n aparte kastrol en klits om die klonte te laat oplos. Hou aan klits terwyl die mengsel begin kook en ‘n stywe pap begin vorm. Haal die pot van die stoofplaat af.

      Voeg die suikerstroop bietjie-vir-bietjie by die pap en roer goed na elke byvoeging. Sorg dat jy van die begin af net in een rigting – kloksgewys – roer. Plaas die kastrol terug op die stoof en stel die plaat op die laagste hitte. Laat die pot vir minstens ‘n uur lank prut terwyl jy baie gereeld roer, ook net in een rigting. (Dis wat die Turke sê en wie is ek om te stry?) Ek stel my stoofwekker en roer elke 10 minute. Die mengsel word so ‘n amber kleur.

      Haal die pot van  die stoof af en roer die rooswater en voedselkleursel by.  Giet die mengsel in ‘n vierkantige pannetjie van ongeveer 20 x 20 cm wat liggies met oliesproei gespuit en met twee stroke bakpapier gevoer is. (Onthou om die bakpapier ook liggies te spuit!)  Laat staan oornag.

      Gebruik die punte van die bakpapier om die blok uit die pan te lig. Sif die versiersuiker en mielieblom saam en sprinkel op die werkoppervlak. Plaas die blok Turkse Genot daarop en sny in blokkies. Rol elke blokkie in die versiersuiker-mielieblommengsel. Bêre die blokkies in die versiersuiker-mielieblommengsel in ‘n houer wat effens toemaak maar nie lugdig is nie.

      Moet dit onder geen omstandighede in die yskas bêre nie.

       

      Lees verder →

    • Prettige braaihoender-in-die-oond

      Wanneer laas het jy sommer net iets vir die lekker gedoen? Sommer net vir die pret? Daardie selfde lekkerte ervaar as wanneer jy diep uit jou maag uit lag . . . sommer oor niks.

      Lees verder →

    • ‘n Skotteltjie troos

      Ek glo nie daar is ‘n mens wat nie af en toe hunker na so ‘n klein bietjie troos nie. Net ‘n hand op die skouer. ‘n Drukkie. Of net die paar woorde . . . “Alles sal regkom.” Al weet jy voor jou siel dit sal baie méér as net ‘n gebaar of mooi woorde kos om weer heel te maak.

      Maar die lewe deel nie maklik drukkies en trooswoordjies uit nie. En die meeste mense is so vasgevang in hul eie seer en sukkel dat uitreik na ander net ‘n nagedagte geword het.

      Dan skep jy maar jou eie salfie vir die seer. Soos hierdie skotteltjie. Regte, egte trooskos. Die geheim lê in die eenvoud – die sagte smaak van prei wat boon en hoender omhels en warm op jou maag en om jou hart kom lê.

      County Fair hoenderskottel met preie en botterbone

      Genoeg vir 4

      3 eetlepels olyfolie (sonneblom- en canola-olie sal ook net so goed werk)
      8 County fair hoenderdye
      sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
      1 ui, geskil, gehalveer en in dun skyfies gesny
      3 groot preie (of 6 kleiner), goed skoongemaak en in skyfies gesny
      1 opgehoopte eetlepel Dijon-mosterd
      1 koppie hoenderaftreksel
      1 x 410 g blik botterbone, goed afgespoel en gedreineer
      ‘n handvol gekapte vars pietersielie

      Verhit die olie in ‘n groot, diep pan en braai die hoenderstukke in sarsies tot alkant goudbruin.Gebruik ‘n gaatjieslepel om die hoender uit die pan te skep. Braai die ui en preie in dieselfde pan tot sag. Roer die aftreksel en mosterd by en laat liggies prut. Voeg die botterbone by. Plaas die hoenderstukke met die velkant na bo bo-op die panmengsel. Bedek die pan en laat vir 25 – 30 minute prut of tot die hoender deurgaar is. Sprinkel die pietersielie bo-oor en bedien.

      WENK: Hierdie gereg is heerlik net so op sy eie. Jy kan miskien net ‘n lekker slaai of gestoomde groente daarmee saam bedien. Maar, glo my, dis nog lekkerder saam met ‘n geurige witrys of kapokaartappels.

       

       

      Lees verder →

    • Eilandkos

       

      Een van die redes waarom ek so mal is oor kook, is die ongelooflike reise na verre eksotiese plekke wat ek sommerso by my stoof beleef. Hierdie slaai het die malse kleure van see, son en eilandgenot,

      Lees verder →

    • ‘n Skottel vir die mense om my tafel

       Elke oggend, met die maak van my eerste koppie koffie, voer ek ‘n klein ritueel uit. En nou praat ek nie van die maal van die koffiebone en die versigtige afmeet van die kosbare moer in die staalsiffie van my mokaketel nie . . . Nee, elke oggend steek ek plegtig sewe kerse aan met die gasvlam waarop daardie keteltjie staan en kook: Met die aansteek van elke kers, is dit tegelyk seënwens, gebed  en dankie sê. Elke kers verteenwoordig ‘n deeltjie van my lewe en die laaste kers, die sewende een, is vir die mense om my tafel – vriende, familie, vreemdelinge . . . En wanneer ek daardie kersie aansteek, sien ek die tafel in my geestesoog. My mense. My tafel. En die kos – nie uithaler-spoggeregte nie, maar een skottel, soos hierdie roosterpangereg. Dis net hand uitsteek en skep na hartelus totdat net die sousies oorbly. En in daardie sous doop jy die laaste stukkie van my tuisgebakte brood

      County Fair Hoender-en-groente–roosterpan

      Genoeg vir 4

      Vir die groentelaag
      1 groot ui, geskil en in wîe gesny
      2 x 400 g pakkies voorbereide groente van jou keuse (jy kan jou eie mengsel maak)
      1 teelepel hoenderspeserye (sien WENK)
      ‘n handvol vars gekapte kruie – tiemie, oreganum of pietersielie (of ‘n mengsel van dié drie)
      1 koppie hoenderaftreksel
      Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

      Vir die hoender                                                                                                                                       
      8 – 10 County Fair hoenderstukke
      3 eetlepels olie
      1 eetlepel hoenderspeserye
      Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

      Rangskik die uie en die voorbereide groete in ‘n oondroosterpan. Sprinkel die hoenderspeserye en die vars kruie bo-oor en giet die aftreksel oor. Geur met sout en peper en mengs alles liggies. Bedek met foelie en bak in ‘n voorverhitte oond van 200°C vir 20 minute. Terwyl die groente in die oond is, kan jy solank die hoender voorberei: Plaas die hoenderstukke in ‘n verseëlbare plastieksak of ‘n plastiekhouer wat dig met ‘n deksel seël. Voeg die olie en die hoenderspeserye by, seël die sak of houer en skud liggies sodat elke hoenderstuk oraloor met die speserye bedek is.  Haal die groene uit die oond aan die einde van die baktyd, verwyder die foelie en rangskik die hoenderstukke bo-op. Geur met sout en peper na smaak. Plaas die pan net so onbedek terug in die oond en bak vir nog ‘n uur of totdat die hoender deurgaar is.

      WENK: Maak jou eie hoenderspeserye (lewer ongeveer 100 ml – bêre die res in ‘n lugdigte houer): Meng 3 eetlepels soutvlokkies (soos bv Maldon), 1 eetlepel varsgemaalde swartpeper, ½ teelepel droë pietersielie, ½ teelepel uiepoeier, ¼ teelepel droë tiemie, ½ teelepel droë oreganum, 1 teelepel droë knoffelvlokkies, ¼ teelepel gerookte paprika, ¼ teelepel rooipeper, ¼ teelepel rissievlokkies en 1 eetlepel hoenderaftrekselpoeier. As jy ‘n mengsel met minder byt soek, kan jy die rooipeper en rissievlokkies weglaat.

       

      Lees verder →

    • Turksvye

      Ek dood oor turksvye. Netjies afgeskil en yskoud uit die yskas. Groen, geel en rooi – die mooiste juweelkleure. Ek kon nog nie ‘n woord kry om die smaak te beskryf nie. Maar as ek aan hoogsomer dink, voel ek eintlik hoe die yskoue pitte en sappige vlees by my keel afgly.

      Ek onthou nog uit die dae toe ek skool gehou het op Graaff-Reinet en naweke saam met my eerste man op die plaas duskant Jansenville gaan kuier het. Ek het skottelsvol verorber. My skoonmense het gespot en gesê ek is soos die apies in die veld – turksytyd sit hulle boeppens op die draad in die son en slaap, trommeldik geëet.  Sommer so van die bos af. Ek sidder om te dink hoe hulle van die dorings moes gelyk het, want my vingers is altyd vol van die geniepsige fyn stekels wat oënskynlik onsigbaar word wanneer hulle by jou vel intrek. Maar jy wéét hulle sit daar.

      En dis waaroor my en Maswazi se gesprek vanoggend gegaan het – oor turksvye en dorings. En oor die verkragting-turksy waarmee die ANC nou weer sit.

      Maswazi is ‘n man wat nie baie praat nie. Maar hy het sy oomblikke. En wanneer hy die slag lostrek, vergoed hy behoorlik vir die lang stiltes. Ek en Zuki het al geleer om versigtig te trap wanneer dit by die politiek kom, want Maswazi is ‘n man wat wéét. En as hy eers op dreef kom, word dit ‘n lang storie. Maar dis die uitsondering. Hy is ‘n man van min woorde, ‘n man wat diep kyk. In die vier jaar wat hy onder my dak woon, het ek geleer om te luister wanneer Maswazi praat. (Of lekker te lag wanneer hy die slag die storie agterstevoor om beet het.)

      “Karen, nobody has time – you make time,” het hy vir my gesê kort nadat ons my ma uit die siekeboeg van die aftree-oord gaan haal het om by my te kom bly. Dit was ‘n jaar gelede. Hy het dit goedkeurend gesê, om te beduie dat hy raaksien hoe ek sorg. Maar dit het my terselfdertyd aan die dink gesit.  Ek máák nou tyd om nie net te versorg nie, maar te gaan sit en rustig te gesels, tyd saam deur te bring. Dit is nie altyd maklik nie, veral omdat ek van die huis af werk en móét tyd inruim om spertye te haal.  So tussendeur moet ek en Maswazi moet ook vir ‘n hele paar winkels en ander kliënte bak.

      Dit was my keuse, ja. En dit was nie ‘n maklike besluit vir iemand wat so jaloers waak oor eie tyd en ruimte nie (waarskynlik een van die redes waarom nie een van my drie huwelike baie lank gehou het nie). Maar die stres van nie weet nie en vier oproepe ‘n dag het my – en die personeel van die aftree-oord – byna gek gehad. Boonop het my pa ook nog by my gespook. As ek ook getwyfel het oor my besluit, het die vreemde ontmoeting by die hospitaal se ontvangstoonbank my finaal oortuig. Ek het my ma kom haal om huis toe te neem ná ‘n dag van drama in Ongevalle en ‘n weeklange hospitaalverblyf.

      Die vreemde vrou met die sigeunervoorkoms het so uit die bloute met my gesels. Sy was duidelik een van die besoekers daar. “Waarheen neem jy jou ma nou?” wou sy weet. En toe sy hoor ek neem haar na my huis toe, het sy haar kop geknik sof sy dit eintlik geweet het. “Dis hoe die lewe is,” sê sy toe. “Daar is altyd één wat kan sorg.”

      Dis waar, het ek besef. Die lewe het vreemde draaie met my geloop. Maar eindelik was ek nou heel voorbereid en goed ingerig om haar by my te neem.

      Ek het gou begin bou aan ‘n ondersteuningstelsel. En my verstom aan die deernisvolle manier waarop Maswazi help sorg het. Wanneer “Ouma” gereed maak om winkel of biblioteek toe te gaan, begin sy al rondkyk waar Maswazi is om haar met die trap af te help. Hy kyk met ‘n fyn oog wanneer hy soggens kom môre sê. As hy sy kop skud en my vraend aankyk, kan ek maar weet hier kom groot moeilikheid. Die verligting is groot wanneer hy die oggend sê: “Ouma is looking fresh today.” Ek kon nog nie mooi agterkom wat die woord “fresh” vir hom beteken nie, maar só ‘n dag bring gewoonlik net goeie dinge.

      Om dit vir my nog makliker te maak, het ek ook begin met ‘n hele paar speletjies en rituele, maar dis ‘n lang storie vir ‘n ander dag. Ek het ook besef my kosreis het ‘n nuwe afdraaipad gekies – ek ontdek nou die wonderlike, helende eienskappe daarvan en dis so bevredigend om die uitwerking daarvan op my ma te sien. Sy glo vas ek en my Toorkombuis toor haar gesond.

      Dit was juis vanoggend, terwyl ek besig was om die sewe verskillende vrugte vir my ma se ontbytbuffet voor te berei dat ek en Maswazi oor dié turksvye begin praat het. Eers moes ek lank en geduldig verduidelik hoe moeilik ‘n verkragtingsaak is en sy vrae oor die kommentaar van inbellers op die radio probeer beantwoord. Toe staan en kyk hy na die skinkbord waarmee ek besig is. En hy prys my vir die moeite wat ek doen en vertel my hoe goed Ouma nou lyk in vergelyking met die brose, ou vroutjie wat ‘n jaar gelede hier by ons kom bly het.

      Ek hanteer nie komplimente baie goed nie en om die ongemak van die gesprek te vermy, stuur ek dit toe in die rigting van die turksvye waarmee ek besig is. Ek weet dis die een vrug wat hy baie goed ken uit sy kinderdae in die Oos-Kaap. Hy het mooi gekyk hoe ek ‘n stuk handdoekpapier gebruik toe ek die een turksvy uit die yskas gaan haal. Ek het al ‘n vadoek gebruik, maar op die harde manier geleer daardie dorinkies sit agterna en wag vir jou in die voue van die doek en takel jou wanneer jy dit die minste verwag.

      Nou lê daai turksvy op die snyplank en wag. Ek steek hom versigtig met ‘n vurk en hou vas terwyl ek eers die twee punte afsny, en een sny oor die lengte van die dik skil af maak. Dan sny ek versigtig die skil van die vlees af weg. Sodra daar genoeg vashouplek is tussen die skil en die vlees, met die dorings veilig aan die onderkant van die dik, wasagtige skil, gebruik ek my vingers om die vrug uit sy stekelrige omhulsel te rol, in mooi skyfies te sny en op die bordjie te pak.

      Só staan Maswazi vir my en dophou en kom met een van sy seldsame stories uit sy kindertyd. Hulle het gereeld gaan turksvye pluk, vertel hy. Maar sodra die boks vol was, het hulle dam toe gehardloop om te gaan swem. Dis om van daardie lastige dorinkies ontslae te raak. En, sê hy voor jy begin pluk, moet jy ook eers goed seker maak watter rigting die wind waai.

      Nou hoop ek maar ons staan almal so dat die wind die dorinkies anderkant toe waai en ons net die soet van die vrug, sonder die steek en seer, sal ervaar.

      Lees verder →

    • ‘n Wrap vir die somer – hoender-in-‘n-baadjie

      Niks spel vir my só somer soos ‘n lekker wrap nie. So ‘n maaltyd-in-die-hand laat jou dink aan sambreelkos op sonnige strande of iets piekniekerigs onder koeltebome. Dis ook pure lekkerte op die tafel en lekker vinnig en maklik om te maak na ‘n lang en warm werksdag.

      Lees verder →

    • Dis die wind wat waai

      Die wind waai woes hier in Woodstock. Die Suidooster is deel van die Kaap, ja, maar hier by ons, voel ons sy woede soveel erger. Dis asof Tafelberg van die lastige keffertjie wat hier aan sy regter-skeen hap, wil ontslae raak en met bolwange blaas om hom die see in te jaag. Na drie dae en drie bangmaak-nagte lyk dit darem asof hy nou tot bedaring gekom het.

      Lees verder →

    • Page 2 of 14
    • Onlangse inskrywings

      • Sonsoekers en perdeblombrood
      • Louisiana Hot Sauce
      • Eureka Mills se vetkoek-mengsel
      • Marmite-koek vir die onthou
      • Ouma se Oornag-rosyntjiebrood
    • English recipes

      Click here to view English recipes.
    • Kombuiswenke

      Klik hier vir Karen se Kombuiswenke

© Karen Hart & Toorkombuis 2026 Alle Regte Voorbehou. Geskep deur Lightspeed Digital Media.

http://toorkombuis.co.za/wp-content/themes/handmade-two