Sinkbaddens vol soet

Ek het nie eintlik ‘n soettand nie. Ek is ook nie regtig ‘n koek-en-tee mens nie. En oor poeding is ek min gepla.

Ja, ek weet ek bring elke Saterdag my soetgebak na my marktafel by The Market at the Palms. Romany Creams, dekadente sjokblokke, gemmerkoekies, malvalekkers, en . . . en . . .. Ek bak koeke en terte waaroor die mense nog lank agterna praat en droom. Ek maak ‘n sjokolademousse wat die engele laat trane wegpink.

Maar eens op ‘n tyd, nie te lank gelede nie, het ek geglo ‘n lekker ete is genoeg. Niemand sal eens poeding mis na ‘n groot onthaalmaal nie. Maar toe my gaste ‘n soveelste keer ná die hoofmaal in afwagting sit en ek uit radeloosheid geskenksjokolade saam met die koffie uitdeel, het ek begin besef daardie bietjie soet is net die afronding wat ‘n lekker ete nodig het.

Dit het ook nie net by poedings gebly nie. Die volgende het ek een platsak-Kersfees besluit om tuisgebakte kleinkoekies as geskenke uit te deel. Ek het nie eintlik gespaar nie – dis nogal ‘n duur storie. Boonop het die koekie-gogga my gebyt en dis hoe dit alles begin. Maar dis ‘n storie vir annerdag.

Ek wil eintlik vertel van die poeding . . .

Ek was skaars vier toe ons op Volmoed aangekom het. Dis ‘n plaasgemeenskap net duskant Oudtshoorn, aan die Mosselbaai-kant. Jy was dalk by die High Gate-volstruisplaas en het nie eens geweet jy bevind jou nou op Volmoed nie.

Oor die volgende ses jaar op die idilliese plekkie kan ek baie stories vertel. En ek sal nog. Maar dit was ook daar waar ek basaarpoeding leer ken het. Die tafels in die klein kerksaaltjie op die bult het onder die poeding gekreun. Vir ‘n paar sent kon jy ‘n wit polistireen-bakkie vol skep met elke geur en kleur en ‘n dik laag vla om alles te kroon.

kerkbasaar

Die Volmoeders se poedinglus was iets om te aanskou. Ek het dit ook nog nie elders teengekom nie. Nie eens in die begerige oë aan die poedinglose tafels van my verlede nie.

Dit was ook nie net by die kerk- en skoolbasaars nie. Met skoolatletiekbyeenkomste is die poeding sommer in sinkbaddens aangemaak en niks het verlore gegaan nie. De toeskouers langs die veld was met hul eie marathonsessie besig.

 

langs-die-veld

My gunsteling was wat ek sommer skuimpiespoeding genoem het. My skoonsus noem dit sponspoeding. Ek is seker in elke huis het dit ‘n ander naam. Maar die smaak – net ‘n lepetjievol en ek staan weer in die kerksaaltjie daar op die bult. Of langs die klippiesveld met die uitbundige gejuig en die sinkbaddens vol poeding.

Met my ma se kuiertjie het ons weer deur ou foto’s geblaai en die verlange oopgekrap. Dis toe dat ek deur my ouma se ou resepte gaan blaai – Volmoed se onthou was nog lekkerder met ‘n bakkie skuimpiespoeding in die hand.

Skuimpiespoeding (of wat jy dit ookal noem)

Genoeg vir 6 – 8

1 pakkie suurlemoenjellie
1 koppie kookwater
1 blik yskoue ingedampte melk (plaas die vorige dag in die yskas)
sap van ½ suurlemoen
½ koppie glanskersies (mengsel van rooi, geel en groen), kleiner gesny
1 koppie mini malvalekkers (of gewone malvalekkers kleiner gesny)
3 eetlepels strooisuiker

Los die jellie in die kookwater op en laat eenkant staan om heeltemal af te koel. Klits die ingedampte melk tot lig en skuimerig. Voeg die jellie by en klits goed. Roer die suurlemoensap, kersies, malvalekkers en suiker by en meng goed. Giet in ‘n glasbak en plaas in die yskas vir ‘n paar uur om te stol.

Los maar die vla. Dis lekker net so op sy eie.

 

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+