‘n Toormengsel vir by-wees en voluit lewe

Kleintyd het ek saam met maats in ‘n weikamp gespeel. My voet het aan ‘n stuk bloudraad, die onderste deel van die draadheining, vasgehaak en ek het myself wind-uit geval. Dit het ‘n goeie 52 jaar gelede gebeur, maar ek sal daardie gevoel nooit vergeet nie.

2016 was my wind-uit jaar. Ek het nooit heeltemal bygekom nie.

Ek kan nie sê of dit ‘n slegter een as ander jare was nie. Ook nie of meer bekendes gesterf het nie. Ek het nie die statistiek  nie. Daar was goeie én slegte tye soos dit maar met enige jaar gaan. Maar ek was half afwesig, asof ek van die kantlyn af staan en toekyk . . . Of steeds op die grond wind-uit langs die stuk bloudraad lê.

Vir alles wat ek graag in my lewe wou hê, het ek nog altyd hard gewerk en nagte lê en wroeg. Selfs vir die liefde . . .

Op dertien het ek opera ontdek. Ek het lang ure in die donker na seermaakmooi liefdesduette lê en luister en lang trane oor die byna onvermydelike liefdesdode gestort. Ek was sestien toe ek die fliek The Story of Adele H gesien en saam met Isabella Adjani vergeefs daardie onbeantwoorde liefde nagejaag het.

Met my kop daar bo in die musiekwolke en in die effe versteurde wêreld van Adele H, het ek die wonderlikste mense en hul liefde hier vlak by my misgekyk het. En as ek nou terugkyk, was die wondelikste liefdesverhoudings in my lewe dié wat so half onverwags toegeslaan en so inspanningloos gebeur het.

Met dié dat my groot droom om ‘n resepteboek te skryf sommer reg aan die begin van die jaar so half pardoems in my skoot geval het, was dit die bloudraad wat my gepootjie en skoon wind-uit gelaat het.

Ek het heeltyd hier in my agterkop nog geglo iemand is besig om my vir die gek te hou, selfs ná ure en ure, dae en weke van skryf en kook, korreksies op bladproewe aanbring. Dis eers toe ek hier kort voor die einde van die jaar met die gedrukte ongebinde weergawe van Toor Met Hoender in my hand staan dat ek weer begin asem haal het.

boek

IN 2017 begin ek met ‘n kontrak in die hand vir my tweede boek en ook ‘n vaste voorneme om heeltyd aanwesig te wees. Hierdie jaar gaan ek nie wind-uit wees nie, eerder snak na my asem terwyl ek elke sensasionele oomblik ten volle beleef.

En daar is niks wat ‘n mens so dwing om die oomblik te geniet soos ‘n goeie speserymengsel nie.

Geen mens kan kerrie eet sonder om mondjie vir mondjie die vuur te gaan soek in rissie of fenugriek nie. Jou aandag is by die borrie en koljander, die tikkie mosterd en die papawersaad wat jou so effe onkant betrap.

Maar dit hoef nie noodwendig kerrie te wees nie. Ek skop die nuwe jaar af met ‘n speserymengsel wat as ‘n vryfmengsel ‘n ribbetjie laat lewe kry, met ‘n eetlepel vol woema gee aan ‘n bredie en frikkadelle laat riel dans van genot.

Speserymengsel

4 eetlepels klewerige donker bruinsuiker
1 eetlepel mosterdpoeier
1 eetlepel sout
1 eetlepel varsgemaalde swartpeper
2 teelepels paprika
1 teelepel droë tiemie
1 teelepel droë oreganum
1 teelepel rooipeper
1 teelepel fyn wonderpeper

Meng al die bestanddele saam en bêre in ‘n lugdigte fles. Ek maak die resep sommer drie-, vierdubbel aan sodat ek altyd ‘n flessie byderhand het. Gebruik dit as vryfmengsel en vryf ‘n handvol van die mengsel in vleis of hoender ‘n uur voordat jy dit braai of in die oond rooster. Wanneer jy ‘n lekker bredie maak, kan jy ‘n eetlepel of twee byvoeg en jy hoef geen ander geurmiddels in jou frikkadelmengsel te gebruik nie.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+