Teer-en-veer — ‘n ongewone hoendermarinade

Dit was ‘n doodgewone dag in die lewe van klein Anthony di Stasio.

Hy was saam met sy drie sussies van die Michelangelo-skool af op pad huis toe. Die een oomblik het hy nog gesukkel om op sy kort beentjies by te hou en die volgende trek hy deur die lug – ‘n verdwaalde branderplankryer gedra op ‘n donkerbruin golf. Toe hy grondvat, spoel die see van molasse oor hom en hy word soos klippie rondgerol tot die golf uitgewoed is. In die verte hoor hy sy ma sy naam roep. Hy probeer antwoord, maar hy kan nie. Die taai bruin is soos ‘n prop in sy keel. Verder weet hy niks nie. Toe hy weer sy oë oopmaak, sien hy sy drie sussies grootoog na hom staar.

Klein Anthony was gelukkig. Hy het oorleef. Want op hierdie dag, 15 Januarie 1919, is 21 mense dood en 150 beseer in die groot Boston Molasseramp. ‘n Molasse-tenk het om die een of ander onverklaarbare rede gebars en die taai donkerbruin massa teeragtige soet het teen 56 kilometer ‘n uur deur die strate van die Noordeinde buurt van Boston (in Massachusetts) gespoel. Mens en dier is deur die golf meegesleur.

Hoewel dit byna negentig jaar gelede gebeur het, vertel die mense van Boston dat jy tot vandag toe nog op ‘n warm somerdag die soet van die molasse kan ruik.

Ek kon nie help om aan dié storie te dink toe ek hierdie spesiale hoendermarinade gemaak en die byna walglike soet reuk swaar in my kombuis hang nie. Maar dis so heerlik dat dit oor en oor die moeite werd is. Die hoender kry so ‘n rokerige smaak en die vleis is sappig en sag.

En dan is molasse, glo dit as jy wil, nog gesond ook. Een eetelepel molasse bevat meer kalsium as ‘n glas melk en meer yster as nege eiers. Molasse bevat meer kalium as enige ander voedselsoort. Dis ‘n ryk bron van die B-groep vitamienes, natuurlike suikers, magnesium, koper, sink, mangaan, molibdeen, vitamiene E, pantoteensuur en fosfate. Dit help ook glo om die suurbalans in die liggaam te handhaaf.

‘n Hele mondvol, ja. En eintlik is ons nie gewoond aan molasse in kos nie. In kleinkoekies en poeding, ja. Maar ná hierdie hoender . . .

1.5 – 2 kg hoenderstukke
185 g (so ‘n bietjie meer as ‘n halwe koppie) molasse
4 knoffeltoontjies, baie fyn gekap
2 eetlepels Dijon mosterd
1 ui, geskil en baie dun gesny.
1 eetlepel olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Geur die hoenderstukke met sout en peper na smaak. Meng die molasse, mosterd, knoffel, ui  en olie in ‘n glasbak. Doop elke hoenderstuk in die mengsel sodat dit goed bedek is. Plaas die hoenderstukke in ‘n oondroosterbak wat goed met nog ‘n bietjie ekstra olyfolie gesmeer is. Die molasse-mengsel wat in die bak agtergebly het, kan nou in lepelsvol oor die hoenderstukke geskep word. Bak in ‘n voorafverhitte oond vir ongeveer 40 minute of tot die hoender gaar is. Bedien op ‘n heerlike groente-en-bonerys.

Groente-en-bonerys

Groenterys

Genoeg vir 4 – 6

3 eetlepels botter
1 eetlepel olie
1 groot ui, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 van elk rooi, groen en geel soetrissies, wit gedeeltes en sade verwyder en in repies gesny
1 groot of 3 klein murgpampoentjies, in stukkies gekap
2 koppies rys
1 teelepel droë origanum
1 x 400 g blik niertjieboontjies, goed afgespoel en gedreineer
4 koppies hoender- of groente-aftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die botter en olie in ‘n swaarboomkastrol oor matige hitte en braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, soetrissie en murgampoentjie by en braai ‘n paar minute saam. Voeg die rys by en braai ‘n paar minute saam met die groente voordat jy die bone en aftreksel aftreksel byvoeg en geur met sout en peper. Roer goed deur, verlaag die hitte en laat so onbedek staan en prut vir ongeveer 20 – 30 minute of totdat die meeste van die vloeistof weggekook het. Sit die stoofplaat af en laat staan die pot daarop.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+