Ys-like genot uit weggooivrugte

My ma kuier by my vir ‘n maand hier oor die feestyd. Sy het kort voor Kersfees hier aangekom en ons gaan saam-saam proe aan die eerste neëntien dae van die nuwe jaar. Daar is seker meer opwindende maniere om die bietjie aftyd wat ek het te verwyl, maar haar teenwoordigheid bring ‘n vreemde soort gerustheid. En ek ontspan.

Miskien is dit omdat ek gevrees het ek sal nie weer ‘n Kersfees saam met haar beleef of nog ‘n nuwe jaar saam met haar ingaan nie. Of dat ek nooit die vashou van my eerste boek met haar kan deel nie.

Die laaste paar weke voor haar kuiertjie was ek iesegrimmig en het sleg geslaap. Veral toe sy nog ‘n maand voor die tyd lelik val en per ambulans ongevalle toe geneem word.

Maar nou is sy hier, broos en seer en ek kan vir haar sorg. Ons deel herinneringe en geniet die saamwees op Kersdag met my broer en suster en hul kinders. Ons geniet die gesels én die stiltes tussen ons. Ek herken baie dinge van myself in my ma, ook dié waarvan ek nie wil weet en nie baie van hou nie.

En ek leer die ouderdom ken. Dis nie ‘n mooi prentjie nie. En ek wonder waar ek my oor twintig jaar gaan bevind. Ek sien ook hoe onverdraagsaam mense teenoor oueres is. Twee dae voor Kersdag moet ons Tuinesentrum toe vir ‘n paar laaste inkopies. Dit word ‘n nagmerrie met my wat soos ‘n vlermuis uit die hel my vlerke om my ma en haar skuifelstappie klap om die ongeskikte menigte op ‘n afstand te hou.

Dis lekkerder om hier in die veiligheid van my huis te kuier. Ek kook vir ons, maak elke maaltyd spesiaal. En gister, toe dit so warm was, maak ek vir ons roomys – die goddelikste smaakgenot van ou, amper-weggooi vrugte, vrugte waarvan die blos op jeugdige ferm wangetjies net ‘n vergete en verrimpelde droom oorgebly het.

Die pynappels sou in ‘n ander huis al lankal uitgegooi gewees het. Die mango se skil is taai en vol plooie. En die lemoen is vaal en aan die buitekant al besig om te versteen. Maar wanneer jy die onooglikheid van die ouderdom aan die buitekant wegsny, sit jy met ‘n ryp, geurige kern waarvan nie een van die blosende jongetjies hulle dit kan nadoen nie.

Net die suurlemoen is vars en onervare met ‘n weerbarstige surigheid wat deur die soet van die bejaarde vrugte breek. En die skeutjie rum is vir daardie rebelsheid wat so eie is aan jonkwees maar wat jy selfs in die ouderdom nooit heeltemal ontgroei nie.

Die allerlekkerste vrugteroomys

2 byna oorryp middelslag pynappels
1 groot verrimpelde ou mango
sap van een baie ou lemoen
sap en skil van 2 jong suurlemoene
2¼ koppies suiker
1 koppie water
2 koppies room
3 eetlepels rum

Versap die pynappel en mango en druk die lemoensap uit. Plaas die sap saam met die lemoen- en suurlemoenskil, suiker en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Laat vir 5 minute kook. Haal van die stoofplaat af en roer die suurlemoensap by. Laat staan om af te koel tot kamertemperatuur en plaas in die vrieskas vir ongeveer ‘n uur totdat dit begin vries. Klits die room styf en klits die rum by. Vou in die verkilde vrugtestroop en meng goed. Plaas in die vrieskas en vries tot heeltemal gestol, verkieslik oornag.