Hoogsomer in Woodstock

Hoogsomer. Windloos… (Hoor hoe kraak kneukels soos ek vingers kruis – jy moet net te hard van hom praat en die suidoos steek weer op.)

Die nagte is soel met ’n byna sweterige sensualiteit. In die Woodstock staan al die frangipanibome swaar van blom en ek proe die son in die adamsvye wat ek van my boom af eet. Maar so tussen die byna oorweldigende soet en klewerige hitte, bly ek soek na iets souts.

En hierdie biltongmuffins is die lekkerste lekker wat jy jou kan indink. Eet hulle net so of goed gesmeer met regte botter. Of as jy regtig wil bederf – met roomkaas en ’n lekseltjie soet pikante rissiesous.