Ouma se Oornag-rosyntjiebrood
My Sondagoggend het begin met ‘n heerlike koppie koffie en die allerlekkerste rosyntjiebrood. Ek het dié broodjies altyd vroeg Saterdagoggende vir die mark by The Palms gebak. Ek het Vrydagaande al die deeg aangemaak – dis immers Ouma se Oornagrosyntjiebrood. Deur die nag kleur en geur die rosyne daardie deeg. En terwyl daardie broodjies bak, water jou mond al met al die geure wat die kombuis vul.
Ek het belowe ek plaas die resep vandag. Dis vreeslik maklik en nikse geknieëry nie! Ek bak dit in kleiner broodpannetjies (ongeveer 12 x 4 cm), maar jy kan twee groot brode in standaard-grootte broodpanne bak. Verleng dan net die baktyd tot ‘n uur.
Ouma se Oornag-rosyntjiebrood
Lewer 6 mini-broodjies of 2 standaard-grootte brode
1⅔ koppies ontpitte rosyne
3⅔ koppies koekmeel
½ teelepel sout
¼ teelepel fyn naeltjies
¼ teelepel kaneel
¼ teelepel gemengde speserye
125 g botter
2 teelepels koeksoda
1 koppie suiker
2 koppies karringmelk
2 eetlepels fyn appelkooskonfyt
Kap die rosyne fyner. Sif die koekmeel, sout, naeltjies, kaneel en gemengde speserye saam in ‘n mengbak. Voeg die rosyntjies by en meng totdat al die stukkies met meel bedek is. Smelt die botter oor lae hitte in ‘n groot kastrol. Haal dit van die stoofplaat af sodra die botter gesmelt is en roer die koeksoda by. Roer totdat al die klontjies opgelos het. Voeg die meelmengsel en suiker by. Giet die karringmelk in ‘n kleiner bakkie en klits die appelkooskonfyt by. Voeg dié mengsel by die mengsel in die kastrol. Meng goed. Bedek die kastrol met sy deksel en laat oornag staan. Die volgende oggend skep jy die deeg in die gesmeerde broodpannetjies en bak die kleintjies vir 30 – 35 minute of die grotes vir ‘n uur lank in ‘n voorverhitte oond van 180ºC.
WENK: Jy kan die broodjies ook in heel klein broodpannetjies bak, maar dan moet jy net jou baktyd verminder (ongeveer 20 – 25 minute). Ek het ook al die karringmelk met Amazi vervang – heerlik!