Drama op Leeukop
Ek onthou nog baie goed toe ek die eerste keer die koekies gebak het.
Dit was ’n Sondagoggend. Ek het soos gewoonlik vroeg opgestaan, vir klein Cleo en die tarentale kos gegee, vir Penelope Pou en haar kuikens bloubessies gevoer en met die bedremmelde poumannetjie, Percy, wat toe ernstig begin vere verloor, gesels om sy selfbeeld bietjie op te kikker.
(Lyk my my opbeursessie het darem gewerk, want hy het daardie middag vir die eerste keer in die sewe jaar wat ek hom geken het, vir my vir ’n foto geposeer. Normaalweg het hy sy gatkant gedraai die oomblik wanneer hy ’n kamera gewaar.)
Ek het gou bo in die tuin laventelblommetjies en ’n paar takkies roosmaryn gaan pluk vir ’n nuwe resep wat ek wou probeer. Dis koekies wat in Europa so bekend is soos ons eie soetkoekies hier by ons en Hemelman vertel sy ma ry kilometers ver agter die goed aan wanneer sy hoor van iemand wat dit hier maak.
Ek het die deeg aangemaak en dis toe dat ek die helikopter hier oor Leeukop hoor dreun en na die verkyker gaan soek.
Toe ek voor my voordeur gaan staan om te kyk wat aan die gang is, staan ’n hele paar van my bure al in die gang – almal met verkykers. Ons kon sien hoe die helikopter reddingswerkers laat sak en hoe hulle daar teen ’n rotslysie met ’n draagbaar doenig raak. ’n Uur of twee later het die helikopter teruggekeer en een van die reddingswerkers saam met die draagbaar opgepik en op die parkeerterrein, langs die ambulans, gaan neersit. Toe het hulle eers die ander gaan haal.
Nie een van ons kon baie goed uitmaak wat aan die gang is nie – elkeen het ’n eie interpretasie van die gebeure gehad. Maar almal het ’n sug van verligting geslaak toe die draagbaar veilig by die ambulans aankom.
Wys jou net..
Die volgende dag moes ons in die koerant lees dat die man se liggaam Saterdagmiddag reeds daar teen die berg opgemerk is, maar dat die wind te kwaai was vir die helikopter om hom te bereik. Hy was tóé al dood. Die res van die “reddingswerkers” was seker forensiese speurders wat moes seker maak die slagoffer het geval en is nie vermoor nie.
Maar so tussendeur al die drama en bewuswording van die broosheid van die lewe, het my broskoekies met die laventel en roosmaryn heerlik gekom.



