Die geboorte van brownies
“Chocolate brownies” is so deel van die Amerikaanse kultuur soos die 4de Julie. Volgens die een storie het die lekkerny sy ontstaan gehad toe ’n vergeetagtige kok nagelaat het om bakpoeier by diebakmengsel te gooi.
’n Ander beweer dis deur ’n kok by die Palmer House hotel in Chicago geskep toe die filantroop Bertha Palmer tydens die Kolumbiaanse Eksposisie in 1892 ’n morsvrye nagereg gesoek het wat die vroulike afgevaardigdes in hul kosblikkies kon pak (aldus Wikipedia).
Die eerste keer toe ek dit gemaak het, was toe die Belge by my kom eet het – saam met my tuisgemaakte roomys. As brownies (bruintjies?) warm saam met melk of roomys bedien word, noem jy dit glo brownie à la mode.
Ek is ’n puris wanneer dit by bruintjies kom – ek kies dié met sjokolade in sy suiwerste vorm. Hierdie ene is tegnies gesproke eintlik ’n vierdubbele sjokolade-bonussie, dis nou as jy die kakao ook in berekening bring!



