Sjef Sagrys
Ek het nog nie baie oor die liewe Sjef Sagrys geskryf nie. Dis eintlik oor ek so ‘n bietjie bang is dat ek soos ‘n betottelde katma almal doodverveel met honderde inskrywings oor die slimste en mooiste kat in die wêreld.
Diep in my hart treur ek nog oor die brose Cleo en ek was bang om weer lief te kry, maar die liewe klein bliksem het my hier in my Toorkombuis heeltemal oorrompel. Nou kan ek nie anders nie – ek is heeltemal verlief op my seuntjiekat.
Sagrysie het ‘n byna uitasem opgewondenheid waarmee hy elke dag aandurf. Hy dink allerhande speletjies uit en kry dit reg om my teen wil en dank te laat saamspeel. Dan het hy ook die manier om, wanneer hy eintlik daar buite nuwe avonture wil gaan aandurf, om my te oorlaai met aandag — so byna asof hy wil vergoed vir die ure wat hy gaan verdwyn.
Ek verstom my aan die slim maniere wat hy uitdink om met my te kommunikeer. Enkele minute nadat hy by die huis ingekom het, weet ek presies waar sit ‘n versteekte bytplek of krapmerk aan sy lyfie. Dan dokter ek maar en troos die brose ego.
Hy teken ook vir my prentjies in sy kosbakke. En wanneer ek die krummels om sy bakke bymekaarvee, help hy kliphard – steek selfs sy pootjies onder die yskas in om ‘n verdwaalde korreltjie bymekaar te hark sodat ek kan skoonmaak.
Ek sukkel om mooi foto’s van hom te neem, want elke hoek bied iets anders. Hy het die mooiste blou oë en sy pels het skakerings van die Siamees waarmee sy bloedlyn op ‘n kol deurmekaar geraak het. Dis feitlik onmoontlik om die volle prentjie op een foto in te kry.
Ek het lanklaas ‘n jong mannetjieskat in my lewe gehad en my hart breek vir elke prooi wat hy van sy jagtogte af hier indra – muise, geitjies, akkedisse, vlinders . . . ons het darem nou die dag die duif kon red voor hy te veel skade kon aanrig.
Maar ek kon nie help om te lag nie toe hy nou die dag die arme veldmuis in sy waterbak gooi sodat Sagrysie eers kan eet voordat hy verder speel. Toe verstaan ek vir die eerste keer hoe hy kliphard vir hierdie oomblik geoefen het – hy het die gewoonte om sy speelgoedmuise in sy waterbak te gooi.
Hy is besitlik jaloers op elke man wat sy voet hier oor my drumpel sit – of dit nou die groenteman of wie ook al is. Aan die begin het ek jammer gevoel as die man op Sagrysie se stert trap en hy ‘n vreeslike keel opsit. Totdat ek later agterkom hy doen dit opsetlik – posisioneer homself so dat die man op sy stert móét trap en ek die man haat en hom jammer kry.
Dis net vir Maswazi wat hy met dieselfde passie liefhet as vir my. Ek kry die twee gedurig waar Sagrysie hom op Maswazi se skoot tuisgemaak het – en hy is glad nie ‘n skootkat nie! Die ergste was toe ek een skemeraand by die huis kom en die twee aantref waar hulle in die leunstoel in die hoek sit en my albei beskuldigend aankyk omdat ek so laat by die huis kom.
So asof hy nooit rondloop nie . . . hy gee my elke keer hartverlamming wanneer hy ure lank op jagtogte verdwyn. En hierdie herfs was dit nogal erg – so byna asof hy vir oulaas nog elke buite-oomblik wil benut voor die winter toeslaan.
Dis vir my wonderlik met hoeveel passie hy die lewe en elke avontuur aandurf, maar ek raak koud wanneer ek dink hoe broos ‘n ou lewetjie is. In hierdie agt maande wat hy by my is, het hy sonskyn in my hart gebing. Ek is bang vir die daardie pynlike winter van verlies . .