Blatjang

Ek koop altyd te veel groente en vrugte. Elke maaltyd is boordens toe vol gelaai met al daardie wonderlike vitamienes en ‘n wonderlike hupstoot vir die gesondheid en die immuniteitstelsel.

So baklei ek al jare teen siektes en dinge, ook vir my bejaarde ma se onthalwe. En nou nog meer, teen die virus en vir oorlewing. Baie vars groente en vrugte, genoeg sonlig en byna ‘n oordosis vars lug. En, natuurlik, baie versigtig leef – maskers en afstand. Die winkels sien my net wanneer die afleweringsdienste nie alles kan bybring wat ek wil hê nie.

Maar ‘n mens kan nie altyd alles ewe vinnig opgebruik nie. Veral die vrugte. Wanneer dit ‘n effens koeler dag is, verseg my ma om vrugteslaai te eet. En met die warmer dae, gaan die vrugte sommer baie vinniger agteruit.

Jy kan koeke en terte maak – ek het selfs ‘n papajakoek gebak! – maar selfs die grootste soettand bereik versadigingspunt. En nie een van ons is eintlik besonder lief vir konfyt nie. Dis toe dat ek begin blatjang maak. En sonder dat ek dit so beplan het, het ek die heerlikste kaasbord vir my Kersfeestafel gehad – met drie soorte blatjang om saam met die varsgebakte brood en verskillende kase te geniet.

As jy dit nog nie probeer het nie, weet jy nie wat lekker is nie! Dis waarskynlik nie so gesond soos vars vrugte nie, maar dis baie goed vir die gees. En dis so belangrik om nou na elke stukkie geluk te gryp – al lê dit nou in ‘n skeppie blatjang.

Piesangblatjang

Lewer ongeveer 2 flessies blatjang

10 piesangs
½ koppie ontpitte rosyne
1 klein ui, fyngekap
¾ koppie bruinsuiker
2 teelepels fyn gemmer
1 brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 teelepel sout
1 koppie witasyn

Skil die piesangs en sny in skyfies. Plaas saam met al die ander bestanddele in ‘n kastrol en kook vir 1½ – 2 uur totdat dit lekker dik is. Skep in gesterilliseerde flessies en bewaar op ‘n koel plek.

 

Papajablatjang

Lewer 1 lekker groot fles (ongeveer die grootte van ‘n 750g mayonnaise-fles)

4 middelslag uie, grofweg gekap
2 koppies wit asyn
1 middelslag of 2 kleiner ryp (selfs oorryp) papaja, geskil, pitte verwyder en in blokkies gesny
2½ koppies wit suiker
1 teelepel fyngekapte knoffel
1 teelepel fyn gemmer
1 teelepel sout
½ teelepel rissiepoeier

Plaas die uie en asyn in ‘n kastrol en bring tot kookpunt oor matige hitte. Kook vir ongeveer 15 minute. Voeg die papajablokkies by en kook vir ‘n uur lank voordat jy die res van die bestanddele byvoeg. Roer totdat die suiker opgelos het en laat prut totdat die mengsel lekker dik is. Skep in ‘n lekker groot fles en verseël. Bêre op ‘n koel plek.

 

Nektarien-pruim-en-bosbessieblatjang

Lewer 2 kleinerige flessies

3 eetlepels olyfolie (sonneblom- of canola-olie sal ook werk)
1 middelslag rooiui, grofweg gekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 eetlepel vars roosmaryn, fyngekap
1 lourierblaar
200 ml bruin asyn
1 koppie sagte bruinsuiker
4 koppies nektariens en pruime, geskil, ontpit en in blokkies gesny
⅔ koppie gedroogde bosbessies
⅓ koppie sultanas
2 teelepels sout

Verhit die olie in ‘n groterige kastrol en braai die uie, bradrissie, roosmaryn en lourierblaar saam oor lae hitte vir ongeveer 15 minute of totdat die uie sag en deurskynend is. Voeg die res van die bestanddele by en bring tot kookpunt. Laat vir ongeveer 45 – 60 minute prut of totdat die mengsel lekker dik is. Skep in flessies en verseël.  B êre op ‘n koel plek.

 

WENK: Dis baie maklik om flessies te steriliseer. Was die flessies en hul deksels in warm seepwater, spoel goed af met warm water en plaas op hul sye in ‘n oondpan wat met ‘n skoon vadoek gevoer is. Plaas in ‘n voorverhitte oond van 120ºC vir 20 minute. Die metaaldeksels kan jy steriliseer deur, net voor gebruik, in ‘n bakkie met kookwater te laat staan. Sien, dis glad nie so ‘n ingewikkelde storie nie!